Bekroonde skrywer herbevestig oproep om Afrikaans te beskerm

verset-en-opbou-boek

Foto: Kraal Uitgewers.

Die taalhistorikus en skrywer Jaap Steyn se jongste boek, Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans, word op 14 Augustus by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein bekendgestel as deel van die jaarlikse Afrikaanse Taaldag‑ vieringe.

In Verset & opbou beskryf Steyn die uitdagende en prysenswaardige werk van verskeie Afrikaanse taalaktiviste soos pres. MT Steyn, SJ du Toit, CJ Langenhoven en NP van Wyk Louw.

Steyn volg die pad van Afrikaans vanaf die wankelrige begin van die 1875-patriotte tot die onderhandelinge vir ʼn nuwe demokratiese Suid-Afrika en die pogings ná 1994 om Afrikaans onder ʼn nie-te-vriendelike regering te behou en te bevorder. Hy kyk met ʼn nugtere benadering na die geslaagde strategieë en mislukte aksies en die hooffigure in Afrikaans se jare lange taalaktivistiese stryd.

Volgens Steyn is “taalstryd” en “taalhandhawing” twee woorde wat party Afrikaanssprekendes nie meer wil hoor nie. Hy verwys daarom eerder na “taalaktivisme” en voer aan dat dié vorm van aktivisme oorbodig in ʼn normale samelewing is. In Suid-Afrika is dit egter nie die geval nie.

“Wanneer die politieke en ander maghebbers taalregte misken, sal die verontregte gemeenskap daarop reageer – of deur gedienstig en gedwee na die owerheid se pype te dans, of self teen onreg op te tree en sodoende aktiviste te word,” sê Steyn.

Oor die hedendaagse uitdagings wat Afrikaans en ander minderheidstale in Suid-Afrika in die gesig staar, meen Steyn is NP van Wyk Louw se insig in taal en taalaktivisme steeds relevant. Boonop bied verskeie alternatiewe en nuwe benaderings tot taalaktivisme, soos voorgestel deur moderne Afrikaanse taalaktiviste, ook moontlike antwoorde tot hedendaagse uitdagings.

jaap-steyn-skrywer

Die taalhistorikus en skrywer Jaap Steyn. Foto: Kraal Uitgewers.

In sy beoordeling van Verset & opbou skryf Chris van der Merwe, emeritusprofessor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad, soos volg: “Met hierdie boek bevestig Steyn sy posisie as een van die belangrikste Afrikaanse skrywers oor taalkrisisse en taalontwikkeling, oor die belang van die eie taal as ’n tuiste vir identiteit en as weg tot volledige menslikheid. Elkeen wat vir Afrikaans omgee, behoort dit te lees.”

Die bekendstelling van dié boek vind plaas in samewerking met die NALN en die Vriende van NALN. Besoek www.kraaluitgewers.co.za vir meer inligting oor die bekendstellingsgeleentheid op 14 Augustus in Bloemfontein of stuur ’n e-pos na [email protected] om bywoning te bevestig. Toegang is gratis. Die bekendstelling begin om 18:00 vir 18:30.

Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur ʼn ruim finansiële bydrae van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Meer oor die skrywer

Jaap (JC) Steyn was ʼn joernalis, navorser en dosent aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite. Hy het talle vakkundige artikels en publikasies op sy kerfstok wat ’n bekroonde digbundel, prosawerke en boeke insluit, en is veral bekend vir sy deeglike studies oor die Afrikaanse taal en geskiedenis, asook vir sy biografieë oor M.E.R., NP van Wyk Louw en Piet Cillié. Sy omvattende werk oor die geskiedenis van Afrikaans, ‘Ons gaan ’n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014), is ook by Kraal Uitgewers gepubliseer. In 2017 is hy as die mede-ontvanger van die Jan H Maraisprys vir sy bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal aangewys. Sy werk is ook met verskeie ander toekennings bekroon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Anders as Antjie Krog is hy nie ‘n vyand van sy eie taal nie. Sal hom ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.