Belê in kinders en lees hardop vir hulle

Foto ter illustrasie. (Foto: Ben Mullins/Unsplash)

“Geletterdheid is nie ’n luukse nie; dit is ’n reg en ’n verantwoordelikheid.”

Onderwys mag wel ʼn kragtige wapen wees, maar die voorlees en vertel van stories is integrale boustene in hierdie leerproses.

Dít is juis hoekom Nal’ibali gestig is. Nal’ibali is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat daarop gemik is om kinders se potensiaal deur middel van die vertel en hardop lees van stories te ontwikkel.

Nal’ibali trakteer kinders die afgelope sewe jaar met ’n spesiale storie om Wêrelddag vir Hardop Lees (WRAD) te vier. Dié veldtog het 13 000 kinders in sy eerste jaar (2013) bereik en verlede jaar se storie is vir 1 559 730 kinders op een dag voorgelees.

“Ons teiken is om op 5 Februarie 2020 vir meer as 2 miljoen kinders hardop voor te lees,” sê Ben Rycroft, hoof van kommunikasie by Nal’ibali.

Nal’ibali vier jaarliks WRAD om mense te herinner hoe belangrik dit is om vir kinders in hul moedertaal voor te lees. Dié NRO sorg elke jaar vir ’n splinternuwe storie wat spesiaal geskryf word om hardop vir skoolkinders voorgelees te word. Die storie word dan in die 11 amptelike tale vertaal. Die organisasie moedig ouers, onderwysers en versorgers aan om dit op dieselfde dag vir die kinders in hul lewens voor te lees.

Hoekom hardop lees?

“Nal’ibali is geskoei op die eenvoudige beginsel dat ’n leeskultuur wat goed gevestig is ’n wesenlike ommekeer in die Suid-Afrikaanse onderrig teweeg kan bring. Geletterdheidsvaardighede is ’n goeie voorspeller van toekomstige akademiese sukses in alle vakke. Kinders wat gereeld interessante stories lees en aanhoor in tale wat hulle verstaan, is goed toegerus en gemotiveerd om te lees en te skryf,” sê Rycroft.

Foto: Sven Brandsma/Unsplash

’n Nuwe storie sien die lig

Dié jaar se storie, ’n Dag om te onthou, is die pennevrug van die bekende plaaslike skrywer en kenner in vroeë geletterdheid Lorato Trok. Trok het die storie in Setswana, haar moedertaal, geskryf en dit is toe in Engels en al die ander amptelike tale vertaal.

“Dit is vir my interessant dat wanneer ek opdrag kry om ’n storie te skryf, die verstekskryftaal sonder uitsondering Engels is. Vir hierdie storie het die woorde egter eers natuurlik begin vloei toe ek besluit het om dit in Setswana te skryf. Dit het my laat besef hoe ons die krag van ons eie taal onderskat,” sê Trok.

Daar is boonop soveel voordele as kinders hul eerste taal goed onder die knie het. Byvoorbeeld, die meeste van die onderrig wat kinders in hul eerste jare ontvang, is mondelings. As hulle dus ’n groot verskeidenheid woorde herken en verstaan, help dit hulle om te leer en sukses in die klaskamer te behaal. Dit skep ook ’n goeie grondslag waarop ’n tweede taal, soos Engels, aangeleer kan word.

Hardop lees hou ook die volgende voordele in:

  • Dit help kinders om lees as ’n bevredigende en betekenisvolle aktiwiteit te ervaar
  • Dit motiveer hulle om self te leer lees en om dan aan te hou lees
  • Dit wys vir hulle hoe ons lees en hoe boeke werk
  • Dit stel hulle in staat om stories te geniet wat bo hul huidige leesvaardigheidsvlak is
  • Dit ontwikkel hul verbeelding, woordeskat en taalvaardighede

Deel die boodskap

Nal’ibali se netwerk van vennote, geletterdheidsmentors en FUNda Leaders-vrywilligers bevorder nie net 2020 se storie op hul digitale en sosiale platforms nie; alle Suid-Afrikaners word aangemoedig om die spesiale storie vir hul kinders voor te lees. Hulle vra ook vir almal om na hul netwerke uit te reik en ander mense aan te moedig om deel te word van Suid-Afrika se geletterdheidsoplossing deur te beloof om hardop te lees by www.nalibali.org/wrad.

“Die storie kan gratis van ons webtuiste afgelaai word in enige amptelike taal,” sê Rycroft. “Maar ons moedig ook Suid-Afrikaners aan om hul deelname te registreer en om foto’s van die leessessies aanlyn op ons Facebook-blad, Twitter of Instagram te deel met die hutsmerk #MyWRAD2020.”

WRAD se impak op Suid-Afrika is so groot dat die Nal’ibali-viering, volgens die internasionale WRAD-organiseerders LitWorld in New York, een van die grootstes in die wêreld is.

Indien jy deel wil word van Nal’ibali se Wêrelddag vir Hardop Lees-viering:

  1. Besoek Nalibali.org om die amptelike storie in enige amptelike taal af te laai.
  2. Sê vir hoeveel kinders jy gaan lees.
  3. Deel foto’s van die hardopleessessies op Nal’ibali se Facebook- en Twitter-platform: @NalibaliSA en gebruik die hutsmerk #MyWRAD2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.