Ben en die walvisse

Ingrid Mennen & Irene Berg (ill.)

Walvisse speel in die see ver onderkant die ou voetpaadjies waar Ben en Oupa baiekeer gaan stap. Die windskeef melkhout is hulle uitkykpos. Van daar hou hulle die walvisse dop. “Wonderbaarlik en misterieus”, noem Oupa hulle, “vlieënde reuse van die see!”

Maar later, skuins voor somer, verander dinge: Oupa bly in die bed. Dae gaan verby…en toe word Oupa begrawe. Dis moeilik om totsiens te sê.

Dan neem Pa vir Ben op die bekende voetpaadjie, en onder die melkhout vertel Pa die storie van ‘n walviskalf wat lank gelede in hulle baai gebore is, en van die ou bultrug saam met wie die walviskalf graag in die baai rinkink het. Maar die ou bultrug kon uiteindelik nie die tog saam met die ander walvisse na die Antarktiese see aanpak nie, en die jong walvis moes leer afskeid neem.

Hierdie pragtige verhaal oor hoe om verlies te verwerk sal ouers en kinders se harte aanraak. Deur bekende natuurbeelde en -feite word die jong kind gelei tot aanvaarding en berusting.

‘n Storie soos hierdie kan die kind op ‘n indirekte manier tot aanvaarding van die verlies gelei word. ‘n Geskikte geskenkboek. Oorkoepelende tema is eerder ‘n algemene “afskeid” as slegs die afskeid van ‘n geliefde oupa.

Oor die outeur:
Geskryf en geillustreer deur ‘n ma en dogter-span: Ingrid Mennen en haar man woon in Nuweland, Kaapstad en hulle het drie volwasse kinders. Van Ingrid se beste familieherinneringe is wintervakansies by die see, wanneer hulle ver gaan stap en die walvisse in die baai was. Ingrid se oudste dogter, Irene, is die illustreerder van hierdie boek. Irene onthou hoe sy as kind deur walvisgeluide en die walvisskelet in die kultuurhistoriese museum in Kaapstad bekoor is. Teken en blokfluit speel was van altyd af haar gunsteling tydverdrywe. Sy het op Stellenbosch en in Frankfurt musiek studeer. Tans werk sy in Duitsland as ‘n musikant en musiekonderwyser. Sy en haar man, ‘n violis, bly naby die Rynrivier. Ben en die walvisse is haar eerste boek.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R130-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.