Bespreking: Een stad, drie rooikoppe, sewe dae

Lapa Uitgewers se Lekkerlit-boek vir April: Een stad, drie rooikoppe, sewe dae deur Adeline en Lili Radloff

In ’n stad soos Kaapstad kan jou lewe binne sewe dae handomkeer verander. En nie die street smart Saskia, loskop stripper Fey of goedige huisvrou Heleen het die kishou van só ’n week sien kom nie.

Bespreking:
Die titel, Een stad, drie rooikoppe, sewe dae roep dadelik assosiasies op met Deon Meyer se 7 dae en berei die leser voor op wat om te verwag: ’n verhaal met onvergeetlike karakters, aksie, spanning, selfs bloed en binnegoed (maar darem nie te veel van laasgenoemde nie). Die verskil is egter dat dit nie die bekwame Bennie Griessel is wat met dié spanningsvolle week moet deal nie, maar drie totaal onbekwame rooikoppe: Fey, ’n postmodernistiese stripper, Heleen, die geskeide ma van twee wat nou om ten brode kelner is, en Saskia, die stylvolle sosiale vlinder wat kokaïen verkoop. En glo my, die meisies wens ook dat hulle eerder op Bennie Griessel se hulp kon reken. Jy sou dink dat die street smart Saskia darem ’n beter idee as die ander sou hê oor hoe om ’n week soos dié te hanteer. Sy kén immers van oorleef. Maar selfs Saskia word onkant betrap deur die gebeure, wat soos ’n dominospel met Heleen se advertensie vir ’n tweedehandse motor in beweging gesit word. Saskia het haar traumatiese verlede lankal agter haar gelos; haar kliënte is hoëklas, ryk huisvrouens of sakemanne en sy is gewoond aan weelde en oorvloed – nié aan Kaapstad se onderwêreld en internasionale skurke nie.

Die verhaal speel af in Kaapstad, wat byna self ’n karakter in die verhaal word. Ons leer die stad ken op sy fraaiste en vrotste, en word op ’n reis geneem van Oranjezicht (waar Heleen en Saskia bure is) en Kloofstaat (Heleen is hier kelner by die restaurant Home), deur Kampsbaai (waar Fey soos ’n goue godin so te sê kaalgat moet rondstaan), Muizenberg (met sy surfers waar die dodelik aantreklike Luke, Heleen se baas, ’n huis met ’n uitsig het) na Pinelands (kaptein Coenie ontmoet Heleen en Fey hier) en die Kaapse Vlakte (want waar anders gaan klop ’n mens aan vir hulp wanneer jy van ’n motor ontslae moet raak?). Elke ruimte is uiters bekend. Of jy nou saam met Heleen in ’n taxi deur die stad jaag of die uitsig op Muizenberg se strand geniet, dié stad bekoor jou, trek jou in en gaan soms genadeloos te werk met jou. Dit is egter ook ’n genadige stad, soos die drie rooikoppe agterkom: hier word jy dalk onskuldig by die planne van skurke betrek en op ’n mal jaagtog geneem, maar wanneer jy uitkoms soek en van, onder andere, ’n motor vol koeëlgate ontslae moet raak, bied Kaapstad genoeg opsies.

Die hele ding begin wanneer Heleen, op Luke se aandrang, ’n advertensie plaas om haar motor te verkoop. Sy het dringend geld nodig om haar huis te behou; haar huurders (Fey, die Gay Boys en Tristan) hou slegs die pot aan die kook. Voor Heleen haar kon kry, is daar ’n reaksie op haar advertensie. Kaptein Coenie wil die motor koop, maar het nie vervoer nie aangesien hy van Namibië af kom. Dus moet Heleen en Fey na hom toe ry. Hy is ’n gretige koper; wat die rooikoppe egter nie weet nie is dat Kaptein Coenie ’n plan het om vinnig geld te maak. ’n Plan wat hom op die map sal plaas. En daardie plan is, om die minste te sê, gevaarlik. Fey bied ewe onskuldig aan om saam met hom te ry sodat hy die geld vir Heleen se motor by sy “vriend” kan gaan optel. Maar voor jy “Kaapstad” kan sê spat die koeëls en jaag Fey vir haar lewe – met Kaptein Coenie in ’n bedenklike toestand, hopeloos meer geld as wat die motor werd is en ’n wit pakkie in haar Hello Kitty rugsak (sonder haar medewete versteek deur Kaptein Coenie). Die skurke wil hulle geld terughê. En die inhoud van die Hello Kitty rugsak.

Fey is so oorhoeks geskrik dat die Gay Boys moet ingryp. Hulle bedink ’n briljante plan, maar alles loop lelik skeef wanneer die Bulgaar en sy makkers by Saskia se huis instap. Die verkeerde huis. Binne ’n dag raak Fey, Saskia en die Gay Boys die fokus van internasionale dwelmhandelaars wat voor niks sal stuit om hulle produk en geld terug te kry nie. En van dit alles is Heleen salig onbewus. Haar probleme draai om die behoud van haar huis, die sexy Luke wat so gaaf met haar is en onbehoorlike gedagtes in haar wakker maak, haar kinders wat by hul pa in Amerika bly en smeek om huis toe te kom en hoe sy as kelner geld kan verdien met ’n verstuite enkel. Dat dit háár motor is wat vol bloed, gate en stukkende ruite op die Kaapse Vlakte verdwyn, weet sy nie. En ook maar goed so. Want vir die brose Heleen sou dit waarskynlik een te veel wees.

Wat het hierdie uiteenlopende vroue in gemeen, wonder jy. Nie veel nie. En tog kan die leser met elke een van hulle identifiseer, juis omdat hulle probleme en vrese, hulle drome en hoop so menslik en alledaags is. Hulle klink soos mense wat jy ken. Hulle praat jou taal. En in elkeen van hulle is iets herkenbaars: die liefde van ’n ma vir haar kinders en die swaar om hulle te sien vertrek, die vrees om oud te word, onsuksesvol te wees en dat die verlede jou gaan inhaal, die droom van ’n man wat jou sal beskerm sonder om jou te versmoor of onder te hou. Die Radloff susters het met Een stad, drie rooikoppe, sewe dae ’n nuwe plek in Afrikaanse fiksie oopgeskryf. Danie Marais noem dit “Tarantino does chick lit”, maar só moorddadig is dit darem nie. Daar is aksie, ja, en spanning, geweld en bloed. Dit alles word getemper deur hope vlymskerp humor. Dit is inderdaad ’n kombinasie van Marita van der Vyver en Deon Meyer, soos die agterblad sê. Maar met meer humor, meer kru taal, meer fabulous Gay Boys, meer praattaal – meer álles.

Een stad, drie rooikoppe, sewe dae is ’n cocktail met ’n skoot adrenalien, ’n ruim hoeveelheid humor, opgevul tot die rand met karakters wat onvergeetlik is.

Interessante brokkies: Die skrywers, Adeline en Lili Radloff, is twee susters wat beide in Kaapstad bly. Adeline se eerste boek, Sidekick, het in 2010 die Sanlam-prys vir Jeuglektuur gewen en was op die kortlys vir die MER-prys in 2011. Sy is mal oor reis en het al gewerk as kelnerin, vryskutjoernalis, chef, redigeerder, kroegmeisie, huisvrou en ma. Daarbenewens is sy ’n gekwalifiseerde onderwyseres met ’n meestersgraad in Engelse letterkunde en het al by beide die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad klasgegee in akademiese taalvaardighede. Sy woon saam met haar man en dogters. Lili Radloff is ’n mislukte aktrise wat deesdae lewe daarvan maak om skandalige seksartikels en feministiese rubrieke te skryf. Alhoewel kwaadpraters dink sy is ’n militante lesbiese mannehater, woon sy heerlik en baie gelukkig saam met haar man in Kaapstad. Sy was nog nooit ’n ontkleedanseres of dwelmhandelaar nie, maar sy het wel rooi hare. Lees meer hier.

By die boekbekendstelling tydens die Woordfees het Danie Marais in ’n onderhoud met die Radloff susters gesê Een stad, drie rooikoppe, sewe dae is “genre-buster, iets soos Tarantino does chick lit.” Maar die susters stem nie saam nie: “Afgesien van die taalgebruik wat so ’n bietjie gewaagd is, is dit eintlik ’n lekker ligte leesboek.” Hulle wou al die elemente van lekker-lees boeke in hierdie roman hê: “Dit moes ’n bietjie romance, ’n bietjie spanning en natuurlik ’n klomp grappies hê.” Gaan lees gerus die volledige berig oor hulle bekendstelling hier.

Die susters lees wyd en het as kinders Roald Dahl sowel as obskure Russiese volksverhale en Homeros se Ilias gelees. Hulle was altwee smoorverlief op Dokter Serfontein en beskryf hulself as “Tolkien-bleeksiele”. Klik hier en hier om artikels in die Burger en Beeld se boekeblad te sien watter boeke en skrywers hulle nog geniet.

Klik hier om meer inligting oor die boek te bekom.

Kompetisievraag:
Wat is die naam van die befaamde bergie wat elke nou en dan in die lewens van Fey, Saskia en Heleen opduik?
a. Captain Courageous
b. Psychedelic Eric
c. The Phenomenal Mike Lowry
d. Louis

Hoe neem jy deel?
Net een boek sal wegstap met die titel: LAPA Lekkerlit-boek van die jaar.
Beantwoord elke maand ’n maklike vraag oor die Lekkerlit-boek van die maand en staan die kans om R1 000 te wen! Die Lekkerlitboek vir April is Een stad, drie rooikoppe, sewe dae deur Adeline & Lili Radloff. Besoek Lapa se Facebookbladvir die kompetisievraag en meer inligting. Besoek ook Lapa se mobi-webwerf: www.lekkerlit.mobi of stuur ‘n SMS met jou naam, antwoord en ‘LAPA’ na 33618. R1,50 per SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.