Bibi Slippers ‘ʼn fotostaat vol foute en gemaklik daarmee’

Bibi en Gielie

Bibi Slippers en Gielie Hoffman tydens die boekgesprek Vrydag by die Boekejol en Filmrolfees in Pretoria. Foto: Bibi Slippers via Instagram

Leonie Bezuidenhout

Die jong skrywer en digter Bibi Slippers het in ʼn kort tydperk reeds diep letterkundige spore in Afrikaans getrap. Met BA-grade in sowel Beeldende Kunste as Tale, asook ʼn meestersgraad in Kreatiewe Skryfkunde, is sy tans werksaam as joernalis en inhoudsvervaardiger in die televisiebedryf.

Haar eerste digbundel, Fotostaatmasjien, het verlede November op boekrakke landwyd verskyn. Fotostaatmasjien is ook die wenner van die gesogte UJ-prys asook die Elisabeth Eybers-prys én is op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

Bibi en die bekende spreker en rubriekskrywer Gielie Hoffman het Vrydag by die Boekejol en Filmrolfees in Pretoria oor Fotostaatmasjien gesels. Sy het vroeër die middag in die Atterbury Teater saam met digters soos Antjie Krog en Andries Bezuidenhout haar skelpienk hoëhakskoene vierkant volgestaan tydens ʼn digmarathon waar dié bekroonde digters hul eie werke voorgelees het.

“Bibi is die hele internet vol,” het ʼn opgewonde Hoffmann voor ʼn vol gehoor gesê. “Ek probeer steeds ʼn greep kry op dié geel tsunami wat die land getref het!”

Bibi vertel dat die bundel die produk was van ses jaar se harde werk tydens die verwerwing van haar meestersgraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Die pad om die bundel gereed te kry vir publikasie was nie altyd gelyk nie, vertel sy, en skuif haar eksentrieke geel leesbril op haar fyn gesig.

“Ek het elke oggend opgestaan en gedink my skryfwerk is fantasties en gereed vir publikasie,” spot sy. “En dan het ek leiding ontvang van my dosent, wat selfs soms my aanvanklike gedigte ‘yl’ genoem en gesê het ‘nog nie, nog nie’. Destyds het ek oor sekere kritiek gehuil, maar in retrospek is ek baie dankbaar daarvoor.”

Sy sê dit was eers toe sy ander digters se woorde begin gebruik het, dat sy haar eie stem gevind het. “Ek begin nooit skryf op ʼn skoon, wit bladsy nie. Selfs toe ek kuns studeer het, het ek altyd gevoel ek moet eers ʼn bietjie ink op die skoon papier mors voor ek daarop kon begin teken,” lag sy.

Dit is ironies dat die bladsye in haar boek wat wel spierwit is, beduidend is daarvan dat die gedig kompleet haar eie woorde en gedagtes is. “Hoe meer ek gesteel het by ander digters, hoe gryser en meer gefotostateer lyk die bladsy in die boek,” verduidelik Bibi. Op Hoffmann se grappie dat ander mense dit “plagiaat” sou noem, lag sy en antwoord: “Met steel bedoel ek, my gedig is baie gebaseer op ander digters se werk.”

bibi2

‘Fotostaatmasjien’ pryk op die winkelrakke. Foto: Bibi Slippers via Instagram

Bibi vertel die naam van die bundel sou eers Afskrif heet. “Die reine waarheid is dat ek nog altyd gefassineer is deur fotostate. Ek hou daarvan hoe vinnig en onvolmaak dit is. Toe ek op universiteit was, het ek baie tyd deurgebring in ʼn saal met omtrent 50 fotostaatmasjiene. Ander studente het hulle geld aan drank bestee en ek het fotostate gemaak. Ek het selfs rondgekrap in herwinningsblikke en die mooiste goed daar uitgevis wat ek vandag nog het,” vertel sy geesdriftig.

Hoekom fotostate? “Geen weergawe van ʼn dokument is ooit dieselfde nie. Elke fotostaatmasjien het ʼn fout. Dit het my laat besef dat ek die foute wat as kritiek in my werk aangespreek word, kan omarm en die foute vir my laat werk,” sê Bibi.

Sy en die ontwerper van die uitleg van die boek, Richard Myburgh, het sommige van die gedigte met lang reëls, dwarsoor die bladsye van die boek, gedruk om nie afbreek aan die lengte van die reëls in die gedigte te maak nie. “Ek skuif woorde rond in my gedigte,” verduidelik Bibi.

“Posisies in ʼn reël is belangrik omdat dit aandag trek na die woord aan die begin en aan die einde van die sin. Waar jy ʼn sin afbreek, kan maak dat dit dubbelsinnig raak. Ek hou van daai speletjie. My kamer is nie netjies nie, maar my gedigte is,” lag sy.

Sy vertel “Punt” is die gewildste en oudste gedig wat in die bundel verskyn, en skerts dat aanhangers mal daaroor is om die gedig as aanhaling op Instagram te gebruik. “Ek dink ek was so 20 toe ek dit geskryf het. Dis baie eenvoudig, dis dadelik duidelik wat dit beteken en mense kan hulle in verskillende fases van hulle lewe daarmee vereenselwig.”

Oor haarself is Bibi nie te ernstig nie. “Ek hou daarvan om ernstig te wees oor ʼn lawwigheid. Ek hou van speel en pret hê, maar ek was ook ʼn hoofmeisie,” lag sy. “Mens voer dit net met erns uit, dan lyk dit soos belangrike dinge waarmee jy besig is.”

ek skryf jou af en eindig
ons verhaal met ʼn punt
agter jou naam.
finaal.
 
maar dis altyd so met my
as ek my weer kom kry
is daar nog twee punte by

– “Punt” deur Bibi Slippers

Fotostaatmasjien is by boekhandelaars landwyd te koop of by NB-Uitgewers.

Die Boekejol en Filmrolfees word nog tot 20 Augustus in Pretoria aangebied. Vir meer inligting oor ander gesprekke wat aangebied word, besoek die fees se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.