Bid saam vir boere, plaasaanvalle in dié gebedeboek

Nico Schamrel, ʼn skrywer van Uitenhage, vertel dat hy aan die begin van die jaar ’n behoefte gehad het om terug te ploeg in die gemeenskap en dankie te sê vir al die seëninge wat hy daagliks ontvang. Vandaar die besluit om ʼn gebedeboek saam te stel en persone te nader om bydraes te lewer.

My gebed vir ʼn boer wil die belangrikheid van boere se rol in die gemeenskap beklemtoon en terselfdertyd geld insamel vir diegene wat die grusaamheid van plaasaanvalle oorleef het.

Die boek bestaan uit ʼn versameling gebede, skryfstukke, gedigte en lirieke wat deur meer as 60 bekendes, onder wie Gerhard Steyn, Brümilda van Rensburg, Jak de Priester, Juanita du Plessis, Leon van Nierop en Amanda Strydom, ingestuur is.

Temas wat in die boek behandel word, sluit in gebede vir die veiligheid van plaasboere, hul gesinne en hul werkers, troosgebede vir slagoffers van plaasmoorde en gebede vir verandering, bystand, vergifnis, wysheid, goeie leierskap en vir God se genade, asook seën oor die boere en al die mense van die land.

Wanneer sy moed hom begewe het, het Nico se geloof in die projek hom gedra. Die positiewe reaksie en kommentaar van bekendes het hom beslis aangespoor om van dié besondere projek ’n sukses te maak, vertel hy.

“Dit het nege maande geneem om bekende Suid-Afrikaners te nader en hul bydraes bymekaar te maak,” sê Schamrel. “Ek was oorweldig deur hul reaksie en die gesindheid waarmee die persone dit gedoen het.”

Die inisiatief word onder die vaandel van NS Liefdesdiens / NS Act of love, ʼn niewinsgewende platform, bestuur. Anneline Kriel-Bacon, wat in 1974 die Mejuffrou Wêreld-kroon gedra het, is die ambassadeur en haar Suid-Afrikaanse bestuurder, Leonard Arendt, die assistent.

Nico Schamrel is die samesteller van ‘My gebed vir ʼn boer’ (Foto: Verskaf)

Schamrel doen ʼn beroep op lede van die publiek om ook die inisiatief te ondersteun deur ’n gebed, skrywe, gedig of die woorde van ’n liedjie in te skryf. Inskrywings moet aan die volgende reëls voldoen:

  1. Inskrywings mag nie 150 woorde oorskry nie.
  2. Gedigte moet kort wees.
  3. Inskrywings mag nie rassisties wees of enige persoon of partye benadeel nie.
  4. Inskrywings in Afrikaans en Engels sal aanvaar word.
  5. Jou inskrywing moet jou eie oorspronklike skrywe wees. Plagiaat is ʼn strafregtelike oortreding.
  6. Sluitingsdatum is 30 Desember (aansoek om verlenging van datum kan gestuur word).
  7. Enige inskrywings wat na die sluitingsdatum ontvang word, sal ingesluit word indien moontlik. Die boek sal na verwagting volgende jaar einde Januarie verskyn.
  8. Jou bydrae bly jou besit. NS Liefdesdiens / NS Act of love beskerm jou kopiereg. Deur jou inskrywing, verleen jy toestemming aan dié organisasie om jou bydrae te publiseer.

“Ons sterre, kunstenaars, legendes en bekendes het hul kant gebring – nou vra ek ook die hulp van die res van Suid-Afrika,” sê Schamrel.

Inskrywings kos R100 en lesers kan dit saam met ʼn bewys van betaling e-pos na [email protected]. Bankbesonderhede is op die webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.