Blitsblaaier kinder- en jeugboeke

Maak van jou kinders boekwurms met dié lekkerleesboeke.

Draakasem (Jaco Jacobs)         

Sewejariges en ouer sal hierdie splinternuwe naelbyt avontuurverhaal van 56 bladsye vreeslik geniet. Darius is glad nie so dapper soos die ander lede van sy gesin nie. Hy sien dan nie eens kans om van die skool se duikplank af te spring nie! Boonop word hy ook nog geboelie deur die skool se kampioen swemmer, Hannes. Maar op ’n dag gee Darius se oupa vir hom ’n vreemde geskenk wat moet help dat hy die draak binne-in hom ontdek. Die boek handel oor bang wees en dapper wees. Linki Brand se kleurvolle illustrasies komplimenteer die teks op ’n treffende wyse.

Uittreksel: ““Almal van ons het ’n draak in ons,” sê Oupa. Hy tik teen Darius se bors. “Net hier. ’n Draak wat sterk en dapper is. As jy dit reg gebruik, sal die blikkie Draakasem jou help om die draak binne jou te kry.”

Meer oor die skrywer: Jaco Jacobs het al meer as 150 boeke geskryf waarvan twee verfilm is. Sy werk is al vele kere bekroon – hy het onder meer onlangs die Scheepersprys vir Jeuglektuur ontvang vir Dinge wat ek nie van skape geweet het nie asook die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur vir Moenie hierdie boek eet nie!

Skaf die boek hier aan.

My storiekis (Leon Rousseau)

Hierdie kosbare versameling van 21 sprokies, fabels en dierestories wat die storiemeester, wyle Leon Rousseau, versamel en oorvertel het, sal menige kinderhart (en volwassenes!) gelukkig stem. Die sagtebandboek van 128 bladsye is geskik vir voorlees én selflees en word aanbeveel vir kinders tussen ses en nege jaar oud. Die talentvolle Linki Lutz het gesorg vir die toweragtige illustrasies wat elke verhaal op ’n kleurvolle wyse uitbeeld.

Die bundel bevat klassieke sprokies soos “Doringrosie”, volksverhale soos “Die gulsige seekoei” en fabels soos “Die leeu en die muis”. Die pragtige stories sal kinders se verbeelding aangryp. Ek het in besonder gehou van “Die tarentale kry name” (bl. 73) waarin twee honger, sluwe jakkalse genaam Snuf en Knor die sappige, vet grondvoëls probeer mak maak ten einde hulle een vir een op te vreet.

Uittreksel: “Soos blits is die twee uit die water en teen die rivierwal op. Hulle gryp hulle veljasse en trek hardloop-hardloop aan. Eers toe hulle hygend tot stilstand kom, sien hulle dat hulle in die harwar mekaar se jasse gegryp het.”

Meer oor die skrywer: Leon Rousseau het in 1959 saam met Koos Human die uitgewery Human & Rousseau begin. Hy is veral bekend om sy gewilde Fritz Deelman-boeke en die topverkoper Storieman-reeks.

Skaf die boek hier aan.

Die groot geheim (Melody Carlson)

Hierdie omnibus van 188 bladsye sluit twee lekkerlees geestelike verhale in getiteld Die meisies van Harbor View en Die groot geheim.

Vier jong meisies genaamd Emily, Morgan, Carlie en Amy ontmoet wanneer hulle weens omstandighede in die verwaarloosde Harbor View-woonwapark beland. Hulle sit skouer aan die wiel, samel fondse in en verfraai hulle leefwêreld, maar dan vernietig vandale al hulle harde werk. Die meisies besluit egter om saam te staan teen die boelies en om nooit moed op te gee nie.

Die opsigter van die woonwapark gee as beloning aan die meisies ’n ou skoolbus wat hulle as ’n klubhuis kan inrig. Die meisies kom af op ’n geheime stoorplek onder die bed in die ou bus. Daar is boeke en plate en ’n dagboek wat aan ene Dan Watterson behoort. Wie is Dan en hoekom is daar van sy persoonlike items in die bus? Die meisies se nuuskierigheid is behoorlik geprikkel.

Ek het baie lekker aan hierdie inspirerende storie gelees oor die onblusbaarheid van die menslike gees selfs wanneer jou omstandighede hopeloos lyk. Meisies van twaalf jaar en ouer sal dit geniet om die boek te lees wat Colette van Niekerk in Afrikaans vertaal het. Hoewel die storie in Amerika afspeel, is die tema universeel en sal Afikaanse lesers daarby aanklank vind.

Uittreksel: “Dan draai meneer Greeyley skerp links, en daar voor hulle staan iets wat Morgan nog nooit voorheen gesien het nie: ’n groot bus. Dit lyk soos ’n skoolbus, maar dit is bont geverf. En al is van die verf al bietjie verweer, is die kleure nog helder. En nogal mooi.”

Meer oor die skrywer: Melody Carlson is die outeur van meer as 200 boeke. Voordat sy voltyds begin skryf het, het sy in die bediening gewerk as kleuterskool-onderwyseres. Sy glo daaraan dat ware gebeure die beste fiksie inspireer.

Skaf die boek hier aan.

Nova omnibus 2 (Fanie Viljoen)

Die laaste twee titels (Sterloper en Eindspel) in die Nova-reeks vir die jeug is nou beskikbaar in ’n lekker dik omnibus van 352 bladsye. Daar is al meer as 42 000 boeke in hierdie uiters gewilde wetenskapsfiksiereeks verkoop! As volwassene het ek ook heerlik aan hierdie omnibus gelees en verstaan ek waarom kinders elf jaar en ouer so dol is daaroor.

As ervare skrywer van jeugverhale weet Fanie Viljoen net hóé om sy lesers in ’n adrenaliengeïnduseerde toestand te hou terwyl hulle die Nova-reeks verslind. Die aksie, avontuur en spanning in hierdie oorspronklike en verbeeldingryke stories gryp jou aandag vanaf die heel eerste bladsy en speel soos ’n opgekikkerde aksiefliek voor jou af. Eksperimente in laboratoriums, geheime, visioene, ruimtetuie en -wesens, ontploffings, spesiale kragte, energielyne … die lekkerte hou net aan! Die vraag is natuurlik of die held, Lucas Niemand, die snel-naderende Eindspel gaan oorleef of nie.

Uittreksel: “Nog ’n knal. Nader hierdie keer. Die rooi spiraal wip-wip-wip oor die grond soos ’n klippie wat oor water spring. Dit raap ’n stuk teerpad op en skeur ’n grasperk in twee met grond wat oopwaaier agter die streep van verwoesting. Toe tref dit die huis. Bakstene vlieg voor die slag weg. Die dak tuimel in soos die ruimtewesens se vuur deur die huis ploeg.”

Meer oor die skrywer: Fanie Viljoen is ’n baie veelsydige fiksie en niefiksie skrywer van onder meer kinder- en jeugverhale, boeke vir volwassenes, radiodramas, kortverhale, rympies, gedigte en selfs ’n TV-enkeldrama. Hy vertaal ook teks en is bekend as illustreerder. Baie van sy boeke het al pryse verower, soos bv. BreinBliksem wat in 2005 die Goue Sanlam-prys vir jeuglektuur gewen het en in 2006 ook die M.E.R.-prys vir jeuglektuur ingepalm het. Meer onlangs (2017) het sy kinderboek, Oepse Daisy, Lulu, ’n ATKV-kinderboektoekenning gekry.

Skaf die boek hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.