Bloem-man publiseer eerste jeugboek – en dít op 79

Stoffel Cilliers (79) (Foto: Verskaf)

Tien jaar gelede was Stoffel Cilliers van Bloemfontein in die Vrystaat op besoek in KwaZulu-Natal toe kitsvloede amok in dié provinsie gemaak en talle lewens geëis het.

Cilliers (79) het uit dié ervaring ʼn jeugboek geskryf wat nou ná tien jaar digitaal gepubliseer is.

Die getal 10 dra spesiale betekenis: Eers was dit tien dae van stortreën waartydens 800 mm reën oor KwaZulu-Natal uitgesak het. Die weermag moes ingryp om talle inwoners van die provinsie uit die vloedwaters te red en selfs drie angsbevange donkies van ʼn huis se dak red. Nou is dié manuskrip – geïnspireer deur die ware gebeure oor daardie tien dae – tien jaar later gepubliseer.

“Ek het destyds gevoel ek kan nie dié ramp beleef het en nié ʼn verhaal daaroor skryf nie,” vertel Cilliers in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Dit was tragies, veral die lewens wat verloor is, en ek het nog altyd gedink dat daar ʼn verhaal van hoop uit dié seer kan kom.”

Cilliers het Monsterspruit geskryf – ʼn verhaal wat vertel van die 14-jarige Dewald, die held in die verhaal, wat antwoorde in die Bybel gaan soek wanneer sy ma sterf en sy verpletterde pa nie met die verlies van sy ma kan vrede maak nie. Boonop gaan die jong Dewald se pa ook gebuk onder erge droogte; ʼn toestand wat hom baie verlies besorg.

Monsterspruit (Foto: Verskaf)

Cilliers sê Monsterspruit is ʼn storie van hoop en bemoediging en gemeenskappe wat saamstaan om verlies te verwerk en nuwe hoop te bring. Selfs die donkies uit die régte natuurramp verskyn in die verhaal as Jakob, Mara en klein Mara.

“Ek is dankbaar dat dié boek nou gepubliseer is. Dit is jammer dat die manuskrip tien jaar lank in my lessenaarlaai moes lê. My dogter, wat ook verbonde aan ʼn uitgewer is, het in ʼn stadium net vir my gesê ons móét die boek publiseer en dat sy dit vir digitale publikasie wil verwerk. Noudat ons dié proses leer ken het, gaan ons sommer my twee kinderboeke, wat voorheen in druk gepubliseer is, ook aanlyn beskikbaar stel,” sê hy.

Cilliers is geen vreemdeling van Afrikaanse literatuur nie – hy was juis in 1970 stigterslid van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en 35 jaar lank die voorsitter van dié liggaam. Cilliers het gereeld boekresensies vir onder meer Volksblad en Beeld geskryf. Hoewel hy deur die jare twee kinderboeke, kortverhale, rubrieke en artikels die lig laat sien het, is dít sy eerste jeugverhaal en die eerste boek wat digitaal gepubliseer word.

Monsterspruit is dalk sy beste werk nóg. Selfs die Afrikaanse skrywer Paul C Venter het Cilliers vir dié verhaal geloof. “Hy het die boek gekoop en gesê dit is baie goed geskryf,” vertel hy. “Hy het gesê die boek kan selfs ʼn voorgeskrewe boek word en dat hy dit baie geniet het; dit was ʼn wonderlike kompliment.”

Sy raad aan enigiemand wat wil skryf – ongeag hul ouderdom? “Begin net!” lag hy. “Lees baie en skryf nog meer. Moenie dink jy is te oud of te jonk om te skryf nie. Die skryfwêreld maak sy arms oop vir enigiemand wat hom omhels.”

Om Monsterspruit te koop, besoek Amazon hier.

Hier is ʼn uittreksel uit die boek:

Welkome reën verbreek uiteindelik ná jare die droogte op veertienjarige Dewald se pa se plaas Wilgevlei.

Maar wolkbreuk op wolkbreuk volg. Dewald en sy pa is heeltemal afgesonder. Sy lekker ou speelplek, die Sterkspruit, het in ’n Monsterspruit verander. Sy donkiemaats, ou Jakob, Mara en Klein Jakob, staan vasgekeer op ’n eiland wat tevore nie daar was nie.

Dewald se pa het nie antwoorde vir hom nie. Waarvandaan sal daar vir hulle hulp kom?

Hierdie jeugverhaal deur Stoffel Cilliers, op die werklikheid gegrond, vertel op boeiende wyse van ’n jong seun se soeke na antwoorde op gebede; na rigtingwysers in die Bybel; na volwassenes wat hom in die moeilikste deel van sy grootwordlewe pyltjies na vore help wys.

Dis die bittersoet storie hierdie van iemand wat ouboet moet speel terwyl hy self nog altyd kleinboet was.

Maar dis ook die mooi verhaal van enkelinge en gesinslede en gemeenskapslede wat deur die wrede magte van die natuur nader aan mekaar gedryf word. Wat saamstaan en saamwerk en oorleef.

Totdat enkelinge wat gedink het dat daar geen hoop meer vir hulle was nie omdat die water tot by die keel gekom het, nou weet dat andere hulle help om ’n September te beleef as ’n lente wat hulle nog nooit geken het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.