Boek: 101 Kleinkoekies

101-Kleinkoekies_groot-COVER.jpgNettie Cilliers

Daar is iets meer as blote nostalgie aan die reuk van varsgebakte koekies, dit grens aan die magiese wanneer meel, botter en hitte iets produseer wat met al ons sinne waardeer kan word.

Die meeste van ons dink egter dit is bo ons vuurmaakplek om hierdie reuke in ons kombuis te laat draal en koop dan liewer winkelkoekies. Hierdie boek wys egter ons kán.

Daar is 101 resepte, van outydse Hertzoggies tot moderne sjokolade- en-lemeoensirkels; van tradisionele “mince pies” tot pekanneut-en-koffiekoekies. Kortom, daar is iets vir alle lekkerbekke: vlakoekies, Griekse brosbrood, klapperskywe, sjokolade-skurwejantjies, Milokoekies, brandglaskoekies en nog vele meer.

Die resepte is duidelik uiteengesit en die wenke daarby is prakties. Elke resep word met ’n kleurfoto geïllustreer.

Nettie Cilliers, die samesteller, dra die boek aan haar ma op, want dit is dáár waar sy geleer bak het. Talle van die resepte kom dan ook uit haar ma se kombuis.

Nou is dit ook vir ons, gewone mense, beskore om nie meer winkelkoekies te koop nie. As daar jongelinge in jou dampkring is, help hulle om die reuk van warm koekies deel van hulle grootwordjare te maak. Soos Nettie, is dit iets wat kinders lewenslank onthou.

Daar is ook min goed wat lekkerder is as ’n pakkie oondvars koekies onder die kersboom. Dit sê immers dat daar iets persoonlik aan die geskenk is.

Oor die outeur:

Nettie Cilliers woon naby in Douglas waar sy haar passie vir lekker kos uitleef. Sy bied gereelde kookdemonstrasies aan waar sy interessante, maar smaaklike disse voorsit. Ander boeke deur Nettie Cilliers is Ek sou kon doen met ’n pampoen (2011) en 200 Beskuit en Biscotti-resepte (2013).

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R174.95*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.