Boek: Afspraak met moord

Jana Marx

Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg.

Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was.

Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank?

Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaadverhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Met behulp van onderhoude met diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.

Oor die skrywer

Marx het in 2013 ’n graad in teologie behaal en tussendeur oor kerkverwante nuus op ’n vryskutgrondslag geskryf. Ná haar studies het sy as handelsmerkredakteur by Finesse-tydskrif gewerk en in 2015 is sy as nuusverslaggewer by Netwerk24 aangestel. Marx fokus veral op kerkverwante nuus en hofsake. Sy het sedert die begin van die Krugersdorp-moordsaak in Mei 2018 daaroor berig. Marx het vanuit die hooggeregshof in Johannesburg verslag gedoen vir Netwerk24, asook die Afrikaanse koerante Beeld, Die Burger en Volksblad.

Genre: Niefiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R295,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae