Boek: Al wat ek weet

Deur Marita van der Vyver

Jy’s kwaad vir die hele wêreld. En jou enigste wapen is ’n rugsak vol woorde.

Gabriel is vyftien jaar oud. Fifteen going on fifty, soos sy ma altyd geterg het. En ná haar dood weet hy skielik nie meer waar hy inpas nie. Die sielkundige wil hê hy moet oor sy gevoelens praat.

Maar hoe verduidelik jy vir haar dat dit die afgelope paar maande makliker geword het om met woede te cope as met snot en trane?

Hoe verduidelik jy dat jou kastige “gemengde bloed” jou anders as die res maak? Hoe verduidelik jy dat dinge net nie meer dieselfde tussen jou pa is nadat hy in ’n sielkundige inrigting opgeneem is nie, terwyl jy moet probeer aangaan met jou lewe? Hoe verduidelik jy waarom jy al twee keer jou polse met ’n knipmes probeer oopkerf het?

Daarom verloor Gabriel homself in die wêreld van performance poetry, waar jy jou woede in woorde kan omsit en dit vir ’n gehoor uitbasuin. In hierdie wonderwêreld van woorde leer hy om sy hand diep binne-in sy rugsak vol woorde te steek en die woorde soos gloeiende kole vir ’n gehoor te gooi.

Dan ontmoet hy vir Sasha, wat mooier is as Sneeuwitjie en boonop ’n ding of twee van poësie weet …

Oor die outeur:
Afgesien van haar gewilde boeke vir volwasse lesers, soos Griet skryf ’n sprokie en Die blou van onthou, wat van haar ’n huishoudelike naam gemaak het, is Marita van der Vyver ook ’n bekroonde kinderboekskrywer. Haar jeugroman Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom het die Sanlamprys verower en is verfilm, en sy het ook die Tienie Holloway-medalje en die M.E.R.-prys verower. Marita woon tans op die Franse platteland saam met haar man, Alain, en vier kinders.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R160-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.