Boek: ‘Amper Frans’ – ʼn Lewe van fanfare en faux pas

Louis Jansen van Vuuren

Toe hy 21 jaar gelede vir die eerste keer in Parys aangekom het, sou die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren hom nooit kon indink dat hy eendag ʼn château in die Franse platteland sou besit nie.

In Amper Frans vertel Jansen van Vuuren op skreeusnaakse wyse hoe hy alles wat Frans is, ontdek en beproef het – daar is neusoptrekkerige kelners, statige hertoginne, etlike botsings met die berugte Franse burokrasie en natuurlik talle faux pas in sy gebrekkige Frans.

Om die vervalle château saam met sy lewensmaat in ʼn boetiekhotel te omskep het groot geduld en uithouvermoë geverg. Talle lesse is op die harde manier geleer. Een daarvan is dat vier verwarmers geensins genoeg is om ʼn hele château te verhit nie en dit sal jou dae lank sonder elektrisiteit laat.

Louis vertel ook van kaskenades met hul gaste en hul eie avonture soos hulle die land platry agter vlooimarkte en avontuur aan. Hy vermeng stories oor hul lewe in Frankryk met brokkies geskiedenis en fassinerende inligting oor eg Franse tradisies.

Dit is ʼn moet vir Frankofiele!

Oor die skrywer

Jansen van Vuuren is ʼn bekende kunstenaar wat al meer as 50 uitstallings in Suid-Afrika en oorsee gehou het. Hy was ʼn dosent aan die Universiteit Stellenbosch en die Michaelis-kunsskool in Kaapstad voordat hy in die laat 1990’s Frankryk toe geëmigreer het. Louis en sy lewensmaat het lank die La Creuzette-boetiekhotel in Boussac besit. In 2009 het hulle die boek Feestelike Frankryk/Festive France saam met Anet Pienaar-Vosloo uitgegee. Verskeie van sy kortverhale is al gepubliseer en hy is die skrywer van Die storie van ʼn huis en ʼn digbundel, Tempermes.

Amper Frans word op 12 Oktober deur Jonathan Ball Uitgewers uitgereik.

Prys: R240,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die e-boek by Jonathan Ball Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.