Boek: As mens geluk kon proe

Zelda Bezuidenhout

Toe Arnelia en haar ma van Kaapstad na Potchefstroom verhuis, besluit sy dit is die ideale geleentheid om die draaiboek van haar lewe te herskryf. ʼn Nuwe dorp en ’n nuwe skool is die perfekte geleentheid om haarself te herontwerp, om ’n nuwe blaadjie om te slaan.

Operasie Nuwe Arnelia.

Oprah sal trots wees.

Ongelukkig loop haar planne sommer uit die staanspoor skeef toe sy by die skool se entrepreneursdag pens en pootjies neerslaan met arms vol kos. Boonop is daar ʼn groepie meisies wat duidelik vasbeslote is om die lewe vir haar moeilik te maak.

Dankie tog vir nuwe vriende, soos Dineo en Ilana, wat die daaglikse dramas van haar lewe ietwat draagliker maak.

Dan is daar Dewald. Hy is die donkerkop-boerseun met die skewe glimlag wat weet hoe om crêpes suzette, tiramisu en uiekonfyt te maak. Hy laat Arnelia se hart vreemde dinge doen, al weet sy hy sal nie twee keer na ʼn meisie soos sy kyk nie.

Toe Dewald se lewe egter onverwags op sy kop gekeer word, gryp Arnelia en haar vriende in. Danksy ʼn ou goudgeel kombi, ʼn winkelpop, genaamd Saartjie, en ʼn klomp fantastiese resepte, begin hulle ʼn mobiele snoepie by die skool. Die Snoeperheroes het die skool op hol met allerlei opwindende pousekos en prettige idees.

Toe Arnelia egter uit die bloute ʼn groot rol in die skool se produksie van Hairspray losslaan, word haar nuwe vriendskappe tot die uiterste beproef en sy word gedwing om haar moeilike verhouding met haar pa reguit in die oë te kyk.

As mens geluk kon proe is ʼn heerlike tienerverhaal propvol humor en deernis, wat bewys dat geluk dikwels in die klein dingetjies skuil. Dit was ʼn naaswenner van LAPA se Jeugromankompetisie van 2017.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R175,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.