Boek: Asterix en Obelix – Die verlore papirusrol (Le papyrus de césar)

 Asterix-en-die-verlore-papirusrol-voorblad.jpgDis die boekgebeurtenis van die jaar vir alle generasies, van peuter tot oupagrootjie!

Die verlore papirusrol (Le papyrus de césar), die 36ste boek oor die avonture van Asterix die Galliër, verskyn 22 Oktober 2015 by boekhandelaars regoor die wêreld.

Aan die stuur van hierdie splinternuwe verhaal staan die talentvolle Jean-Yves Ferri (teks) en Didier Conrad (illustrasies), wat nie meer bekendstelling nodig het nie. Die twee het in 2013 byeengekom om hulle eerste album, Asterix by die pikte, die lig te laat sien. ’n Groot gebeurtenis met gepaardgaande druk: dit sou die eerste Asterix verhaal wees wat deur nuwe outeurs geskep is, onder die welwillende oog van die oorspronklike medeskepper Albert Uderzo wat drie jaar vantevore besluit het om sy potlode neer te lê na ’n loopbaan van meer as 70 jaar. Die aanvraag was enorm, want lesers oor die wêreld heen het al agt jaar lank gewag op ’n nuwe Asterix-avontuur.

Die verhaal is tot op hede ’n wêreldwye sukses (meer as 5,4 miljoen eksemplare is in 24 tale en dialekte verkoop) en bly dié boekgebeurtenis van die jaar 2013.

Sedertdien, gedra deur die geesdrif van hulle lesers en die vertroue van Albert Uderzo asook Anne Goscinny (dogter van die eertydse skrywer van die reeks, René Goscinny), het ons tweemanskap met mening gewerk aan ’n nuwe storie. Hulle leitmotiv: om getrou te bly aan die waardes van hierdie suksesvolle strokiesreeks wat reeds wêrelderfenis geword het, geskep deur twee genieë in hulle genre, René Goscinny et Albert Uderzo.

“Die promosie” van die vorige album het vir hulle die gedagte gegee vir hierdie nuwe opus, en dit het hulle twee jaar van gedagtes uitruil, Skype-sessies, potloodsketse, probeerslae, regskawings and veranderings gekos om vorendag te kom met Die verlore  papirusrol: ’n avontuur so reg in die ware Asterix-tradisie. Die vorige verhaal het ons helde na Caledonië (Skotland) te midde van Skotse clans geneem. Die jongste een sou dus in Gallië afspeel. Caesar kon maar die pad van Rome af vat om met sy beste vyande te kom gesels!

In afwagting op die boek se vrystelling en boekwinkels wat spesiaal deurnag sal oopbly, is ’n paar brokkies inligting solank bekendgemaak. ’n Trots en opgewonde Albert Uderzo is byvoorbeeld oorbluf deur die uitstekende plan wat die outeurs vir hulle nuwe intrige met die Galliese Oorlog as tema bedink het: ’n storie in ’n storie!

En omdat elke goeie storie ’n ordentlike booswig moet hê, maak ons terstond ook kennis met Caesar se raadgewer, die paslik genaamde Sinus Apocrivus. Van hom word gesê dat hy ’n subtiele kruising is van bekende persoonlikhede uit ons hedendaagse wêreld. Dit klink belowend!

Maar wat staan op daardie papirusrol geskryf? En watter rol speel Caesar in die storie? Gaan die Galliërs weer die Romeinse Ryk tot in sy fondamente skud en die grote Julius ontstig?

Op 29 Oktober 2015 sal Asterix 56 jaar oud wees. Die fees beloof om groot te wees en die Galliër is nog lank nie koud nie. Sy ewige jeug het hy natuurlik te danke aan die ontsaglike talent van die outeurs wat hom geskep het, en dié wat die vaandel by hulle oorgeneem het. Agter die vrystelling van hierdie nuwe avontuur lê bowenal ’n menslike verhaal, oor twee klein seuntjies se passie vir strokiesprente in geheel, en vir Asterix in besonder. Jean-Yves Ferri en Didier Conrad is gebore in dieselfde jaar as die kort mannetjie met die snor. Hulle het grootgeword saam met sy reise en die wel en weë van die mal klein dorpie. En vandag hou hulle die pen in die hand om die klein wêreldjie te laat voortduur. Die heer Albert Uderzo het nog altyd geglo dat Asterix moet voortbestaan om vreugde aan die miljoene lesers van die reeks te bring; dié twee manne het gewys hy is reg: Daar lê nog wonderlike avonture vir Asterix voor om te beleef en met die ganse wêreld te deel.

Die boek verskyn 22 Oktober op die rakke.

Uitgewer: Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.