Boek: Bambaduze

bambaduze

Derick van der Walt

Lees die bekende skrywer, Ilse Salzwedel, se resensie oor die boek.

Die uitdrukking “Bambaduze” is die hoofkarakter se uitspraak van die Zoeloe-frase wat “hou my vas” beteken.

Na sy broer se dood en sy ma wat hulle verlaat het om in Engeland die trauma van haar kind se dood te probeer ontvlug, lei Jurie en sy pa ’n afgesonderde lewe in Pretoria. Maar Jurie, ’n gemiddelde Gr 11 seun, lei ’n dubbele lewe. Hy steel karre, maar ook nie werklik steel nie: hy gaan ry ‘n paar draaie en parkeer dan die motor iewers. Dit is sy manier van ontvlugting van die trauma van sy broer se dood en die verbrokkelde verhouding met sy pa. Wanneer hy die eerstejaarstudent Nandi Ngobeni ontmoet, kan hy vir die eerste keer praat oor wat hom so diep ontstel, maar Nandi het ook haar eie probleme. Hierdie boek verwoord ’n seun se uiting van verlies, maar ook die verligting wat aanvaarding kan bring, en is uiteindelik ‘n wonderlik inspirerende storie van die heelwordproses na trauma.

Oor die outeur:
Derick van der Walt is op 14 Julie 1958 op Virginia in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer in 1976 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hy behaal ’n B.A. Honneursgraad in Kommunikasiekunde aan Unisa. Derick is tans ’n direkteur van Chilli Kommunikasiekonsultante in Pretoria, ’n firma wat in die produksie van korporatiewe publikasies spesialiseer. Derick skryf reeds vir baie jare professioneel vir verskeie publikasies. Hy weet reeds sedert standerd 3 dat hy waarskynlik eendag skeppend sou skryf, nadat hy ’n skryfwedstryd wat deur die destydse radioprogram, Jongspanateljee van die SAUK, gewen het. Hy verbeel hom dit was ’n spanningsverhaal wat op ’n donker strand afgespeel het en daar was ’n duikboot en ’n meisie met “raafswart” hare. (Sy prysgeld was een hele bruin Randnoot.) In 2007 ontvang Derick die Sanlamprys vir jeuglektuur: goud vir sy debuutboek,Lien se lankstaanskoene. In 2009 word hy bekroon met die M.E.R.-prys vir jeugliteratuur, ook vir Lien se lankstaanskoene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.