Boek: ‘Baster’ – Jan Vermeulen

Jan Vermeulen

Baster is die storie van Karel, ʼn seun wat met honde kan praat, en Hêppie, ʼn liefdevolle brak wat gedwing word om ’n straatvegter te word. Die verhaal vertel die storie van al die honde waarvoor Karel lief is, maar ook die hartverskeurende verhaal van die hondegevegte en geweld wat sy samelewing verskeur.

Baster was die naaswenner in Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie van 2019. Die skrywer Jan Vermeulen het in 2015 en 2017 dié kompetisie onderskeidelik met Asem en Oopmond gewen.

Oor die skrywer

Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibië gebore. Op 14 is sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het ʼn BA-graad met Hebreeus en Filosofie as hoofvakke aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal. Vermeulen het later sy teologiese lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth behaal. Sy debuutroman, Die laaste dans, is in 1998 deur Queillerie uitgegee. In 2000 het sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie, verskyn. Dié boek is met die Sanlamprys (goud), die MER-prys, die Scheepersprys en ʼn ATKV-kinderboektoekenning bekroon. Vermeulen se kortverhaal “In ma se stoof” het in 2006 in die kortverhaalbundel Van spoke gepraat verskyn. Vermeulen en sy vrou, Diana, woon in die Oos-Kaap.

Prys: R220,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet-van-die-namib ·

Jan baie geluk. Ons oudleerlinge wat saam met jou in Windhoek Hoërskool was is trots op jou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.