Boek: Belg se poësie nou in vertaling beskikbaar

Die Belgiese digter Charlotte van den Broeck het haar digdebuut in 2015 met Kameleon gemaak. Dié bundel is nou deur Daniël Hugo in Afrikaans vertaal en het by Protea verskyn.

Van den Broeck het eers haar merk as voordragkunstenaar in Europa gemaak. Met die verskyning van Kameleon is sy geloof as vernuwende en oorspronklike nuwe stem.

Kameleon is met die eerste oogopslag naïewe maar ironiese, speelse en subversiewe gedigte wat ’n meisie se identiteitsoektog na vrouwees kaart. Dit is ’n ontdekking van die lyflike en van taal, en delf deur herinneringe, landskappe en vorms. Van den Broeck se poësie strek van speelsheid tot introspeksie, en onheilspellende verbeelding kenmerk elkeen van dié treffende gedigte.

Oor die digter

Van den Broek is in 1991 in Turnhout, België, gebore. Nadat sy Engels en Duits studeer het, het sy haar meestersgraad in woordkuns en teater by die Koninklike Konservatorium in Antwerpen voltooi. Van den Broek het twee bundels publiseer: Kameleon, wat die Herman de Coninck-debuutprys vir poësie ontvang het, en Nachtroer (2017), wat vir die VSB Poësieprys 2018 en die Ida Gerhardt-prys benoem is. Haar poësie is in Engels, Duits, Spaans, Frans, Serwies en Arabies vertaal. Van den Broek het in 2016 saam met Arnon Grunberg opgetree by die opening van die Frankfurtse boekebeurs. In 2017 was sy een van die Versopolis-digters en het sy by verskeie Europese feeste, insluitend die Ledbury-fees in Brittanje, opgetree.

Daniel Hugo

Oor die vertaler

Daniel Hugo het Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die universiteite Stellenbosch, Pretoria, Vrystaat en Leuven studeer. In 1989 is ’n DLitt aan hom toegeken vir ’n proefskrif oor die vernufpoësie in Afrikaans. Hy was ’n literêre programmaker by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK en is deesdae heeltyds vertaler en digter. Sy jongste digbundel, Openbare domein, het in 2018 verskyn.

Hugo het meer as 50 boeke uit Nederlands en Engels vertaal. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom bekroon vir sy vertaling uit Nederlands van Tom Lanoye se Sprakeloos en Stefan Hertmans se Oorlog en terpentyn.

Prys: R195,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.