Boek: Blokraai-antwoorde

Blokraai-antwoorde deur Adri Burger word deur Pharos Woordeboeke uitgegee.

Blokraai-entoesiaste glimlag baie breed oor hierdie dik, helderrooi publikasie deur Adri Burger. Ek is seker dat heelwat Afrikaanse woordwoekeraars kliphard gaan skimp om Blokraai-antwoorde present te kry. En as jy nou nie so gelukkig is om bedagsame vriende of familie te hê wat die boek vir jou aanskaf nie, koop dit onverwyld vir jouself. Nie net gee jy jou brein oefening wanneer jy blokraaie invul nie, maar dit help ook om jou stresvlakke te verlaag. Dit is ’n baie insiggewende stokperdjie wat jy enige tyd en op enige plek kan beoefen.

Blokraai-antwoorde is die vierde hersiene uitgawe van Moeggesoek, ’n baie gewilde blokraai-naslaanbron, en is omvattend bygewerk en uitgebrei met meer plaaslike en internasionale feite oor verskeie kategorieë wat Afrikaanse blokraai-liefhebbers sal interesseer. Dit beslaan 600 bladsye en is in sagtebandformaat.

Die agterblad basuin trots uit: “Blokraai-antwoorde bevat meer as 100 000 inskrywings wat jou sal help om jou blokraai vinniger – en reg – te voltooi.” Dit bevat onder meer “geografiese name, name van Bybel-figure, name en vanne van politici, sportsterre, beelhouers, komponiste, skilders, akteurs, sangers en Idols-wenner, en selfs ’n lys van Suid-Afrikaanse plekname wat sedert 1994 verander het” – dus ’n hele skatkis vol feite en inligting. Die gids word as gesaghebbend, gerekend en betroubaar voorgehou.

Die inhoud van hierdie handige naslaanbron is in die volgende sewe temas ingedeel, nl. Algemene kennis (bv. Fobies en vrese, Natuurlewe, Plantegroei, Vervoermiddels); Bybelkennis (Ou- en Nuwe Vertaling) (bv. Bybelboeke, Geldeenhede, Konings en vorste, Mate en gewigte); Geografie (bv. Hoofstede, Lande: naamveranderings, Planete en hul mane, Woestyne); Kunste en vermaak (bv. Beeldhouers, komponiste en skilders, Digters en skrywers, Sangers); Politiek (bv. Politiek: huidige en gewese staatshoofde, Politieke partye, SA Nasionale Regering (seder 1989)), Skoonhede (bv. Me Aarde, Me Heelal, Me Wêreld) en Sport (bv. Atlete, Ghofspelers, Krieketspelers, Rugbyafrigters- en skeidsregters).

Behalwe vir die feit dat dit jou ’n gevoel van bevrediging en trots bied wanneer jy ’n blokraai suskesvol voltooi, is dit ook baie lekker om net deur hierdie gebruikersvriendelike gids te blaai. Die inligting word op weergegee op ’n leersame en interessante wyse en dis steeds lekker om te lees al vul jy nie noodwendig blokraaie in nie. Ek het veral die “Algemene Kennis”-afdeling baie insiggewend gevind. Ek sal hierdie gids beslis aanbeveel, nie nét om blokraaie mee in te vul nie, maar ook om feite na te slaan vir take en ander skryfverwante projekte. Diegene wat graag Bybelstudie doen, sal byvoorbeeld die Bybelkennis-afdeling baie handig vind.

Meer oor die skrywer

Adri Burger is gebore op Meyerton en het in die Cullinandistrik grootgeword. Sy het skoolgegeaan in Bronkhorstspruit en Pretoria. Sy vul graag blokraaie in en lees wyd. Dit was nog altyd haar begeerte om slegs een naslaanbron te gebruik wanneer sy haar blokraaie invul. Blokraai-antwoorde is haar jongste publikasie en beloof om menige blokraai-entoesiaste van oor tot oor te laat glimlag. Sy dra Blokraai-antwoorde op aan haar man, kinders, kleinkinders en suster en bedank hulle vir die aanmoediging wat sy van hulle ontvang.

Skaf jou kopie van Blokraai-antwoorde hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.