Boek: Blom in die hare

Blom-in-die-hare-003.jpgKristel Loots

Kaila is g’n Salomo nie, waarom moet sy nou keuses maak soos hy?

Die leser loop die pad met Kaila vanaf haar hoërskooljare tot Kaila se seun in die hoërskool is. Daar is mooi én bitter oomblikke op haar pad. Telkens is daar keuses wat opduik in die roman, maar uiteindelik, is daar een wat haar die seerste maak: Haar seun se meisie is swanger. Wie se kant moet sy kies? Die jong man met die pyn in sy oë, of die ongebore baba? Die ma van die ongebore baba is boonop die dogter van hóm wat sy heimlik gehoop het vir háár ’n bietjie plesier sou kon bied.

Kaila ken van verwerping. Sy is agterlaat deur ’n vreemde vrou en toe aangeneem deur ’n ewe wêreldvreemde vrou wat toe ook sommer eendag verdwyn het. Haar eerste liefde was haar Wiskunde-onnie, wat ook oornag verdwyn. Blom in die hare is ’n donker roman, een wat siniese vrae vra oor die samelewing se borrelgomidees van die liefde en die huwelik.

Tog: Die boek bied hoop.

Die laaste bladsy in hierdie boek is ’n kragtoer, dit bring alles bymekaar en bring ’n enorme verligting aan die leser.

Loots krap op plekke waar ander nie wil nie. Juis daarom is daardie laaste bladsy so belangrik! Regdeur die boek is daar pragtige oomblikke, maar die liefde kan ook seermaak, dit word nooit ontken nie.

Kaila weet, o sy weet, ’n mens het meer nodig as ’n blom in jou hare om gelukkig te wees. Maar wat doen jy as jou aanneemma jou geleer het dat ’n blom jou enigste verweer teen die wêreld is?

Saam met Kaila leer die leser ook die bittersoet geheim van die blomme ken.

Oor die outeur

Blom in die hare is Kristel Loots op haar beste. Sy beskryf die leefwêreld van gewone vroue van verskillende ouderdomme en verskillende figure.

Loots skryf met ontsettende patos, maar weet ook hoe om deurgaans humor te gebruik. Jy lag, jy lag, dan pink jy ’n traan saam met die karakters.

Hierdie doyenne van Afrikaanse vrouefiksie het al weggestap met ’n ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans, en met baie lesers se goedkeuring.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R290,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mien ·

Dankie vir julle boekresensies. Kristel Loots skryf baie lekker. Net een probleem. Daar is soveel lekker nuwe boeke by Graffiti ! Weet nie wat ek moet bestel en wat ek moet los nie. Irma Joubert ? Francine Rivers ? Chanette Paul ? Wilna Adriaanse ? en … en… Ai tog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.