[Boek] Boereverneukers – Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters

Deur Izak du Plessis

Hulle lieg, bedrieg, gee voor. Hulle verdraai, verdoesel, verduister, verwoes. Geleidelik palm hulle jou vertroue in. Dan, eensklaps, is jy jou geld, status en reputasie kwyt. Só oortuigend doen hulle dit dat selfs die slimste, mees ingeligte mense ’n rat voor die oë gedraai word en eers besef wat hulle getref het nadat grootskaalse skade aangerig is en die gladdebek soos mis voor die son verdwyn het. Maar selfs swendelaars kom hulle moses teë …

Boereverneukers vertel die stories van Afrikaanses wat van ons land se grootste skelmstreke gepleeg het.

Van die karakters is minder bekend by die publiek, maar ander het byna mitiese status in die Afrikaanse psige verwerf, soos die kubuskoning Adriaan Nieuwoudt, die pynmasjienman Gervan Lubbe, die kamma-pediater André Esterhuizen, die Hertzogville-profeet David Francis en die Trustbank-rowers Derek Whitehead en Antonie van der Merwe.

Dalk het jý ook deurgeloop, maar praat tot vandag toe nie graag daaroor nie.

Die boek is ʼn interessante, vermaaklike kykie na die swendelaars van weleer wat lesers beide fassinerend én verfoeilik sal vind. Dit bevat ook meer onlangse ware verhale, soos die kubus-koning en die “uitvinder” van ʼn masjien wat pyn kan verlig.

Oor die outeur:
Izak du Plessis is ’n radiojoernalis en aanbieder by RSG se nuusprogramme Monitor en Spektrum. In 2015 het hy ’n ATKV Mediaveertjie vir ’n reeks oor plaasaanvalle in die Oos-Vrystaat gewen, en in 2016 is hy aangewys as die Vodacom Nasionale Joernalis van die Jaar vir radiobydraes. Van sy gedigte is opgeneem in Nuwe stemme 5.

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R240-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.