Boek: Boertjie

Hannes Deetlefs

Die verhaal van die mense van Suidwes en deels van Suid-Afrika van “daardie tye” is in dié boek so noukeurig as moontlik aangeteken. Die feite en daarmee ook die keuse van temas en gebeure baseer besonders op die baie noukeurige dagboeke, die talle briewe en foto’s van Hermann Deetlefs en Elisabeth Deetlefs-Reimer. Groot moeite is gedoen om so korrek as moontlik die gebeurtenisse, die emosies, die vrees en verwardheid van daardie moeilike tye weer te gee.

Hannes Deetlefs, outeur van Boertjie, sê hierdie is die ware en tog baie eienaardige storie van sy ouers in Namibië (voorheen Suidwes-Afrika) en hul wedervarings.

“Ná veertig jaar in Switserland het ek nou die tyd gehad om die dagboeke van my ouers deur te werk. Die gevolg was die boek Boertjie, die storie van my ouers in die geskiedenis van Suid-Afrika en die destydse Suidwes-Afrika, deesdae Namibië. Ek was trots om uit te vind dat my ouers baie gelowige mense was, en baie vir die swart bevolking gedoen het, sonder om enige ophef daarvan te maak. Hulle het ook gesterwe sonder om enige erfenis na te laat, en dit beteken nogal iets, aangesien my Pa elf jaar burgemeester was van Swakopmund. Hy het egter net eenvoudig sy werk as onderwyser en as burgemeester so gedoen soos hy dit verstaan het. Enige vorm van ‘geldmaak’, wat nie deur die Bybel goedgekeur is nie, is van die hand gewys. En tog was hulle gelukkig tot die einde.”

Intussen was daar al so baie e-posse en telefoongesprekke dat die saak uitgebrei het. Boertjie is nou ook in Engels en in Duits verkrygbaar.

Sien die webwerf vir meer besonderhede.

Die voorwoord is opgestel deur prof. Dap Louw.

Oor die boek:

Hermann was ʼn verstote weeskind wat vanaf sy sesde jaar bitter arm opgegroei het. Hy het egter daarin geslaag om die beste matriekuitslae van Suidwes-Afrika te behaal en het daarmee die eerste lening, wat ooit deur die land aan ʼn student uitbetaal is, gekry.

Hy het in Kaapstad studeer en met twee goue medaljes as hoërskoolonderwyser afgesluit.

Hoewel sy professore hard probeer het, kon hy nie van die lening wegkom nie en was daar weens die begin van die oorlog ook vir hom as “Boertjie” geen kans om iewers anders aangestel te word nie. Hy kon ook nie verder studeer nie. Hy het teen sy wil skoolhoof van ʼn tweemanskooltjie in Otavi, Suidwes-Afrika, geword.

In die laerskool was die ander persoon die onderwysers Elisabeth Reimer. Sy was absoluut die teenoorgestelde van Hermann: Sy was die verwende dogter van die baie beminde predikant Reimer in die stad Traben-Trarbach aan die rivier Moselle in Duitsland. Sy is Suidwes-Afrika toe gestuur om daar die kinders van een Duitse boer op die Plaas Rheinland te onderrig. Sy het daarvoor een jaar verlof van haar universiteit in Bonn gekry aangesien sy dan ook sommer vir haar ekonomiese studies in Suidwes-Afrika die bestuur en finansiële hantering op ʼn tipiese boereplaas moes ondersoek.

Na ʼn jaar is sy egter nie, soos beplan, afgelos nie. Daar was eenvoudig geen student wat haar plek wou inneem nie. So het sy teen haar wil nog ses maande op die plaas onderrig.

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het almal verras. Elisabeth is onmiddellik Walvisbaai toe, maar hulle was te laat. Die laaste Duitse skip het reeds vertrek. So het sy heeltemal teen haar wil 32 jaar lank in Suidwes-Afrika en in Suid-Afrika gebly voordat sy weer na Duitsland kon reis. Hierdie eerste reis ná al die jare is deur haar maats van Traben-Trarbach aan haar geskenk: Sy is uitgenooi om saam met hulle hul aanneming deur haar vader 50 jaar gelede vier.

Hermann, ʼn streng Calvinis en Elisabeth, ʼn net so streng Lutheraan, het in Lüderitz getrou. Hulle het ʼn lewenslange hegte huwelik gehad. Hulle baie noukeurig geskrewe dagboeke is in hierdie storie verwerk. Natuurlik moes dinge oorbrug word. Maar ook hierdie vertellinge is baie nou aan die waarhede van destyds gekoppel. Net die name is verander.

Hermann was in al drie kulture tuis, werklik tuis: Afrikaans, Duits en Engels. Hy was ook hoof van sekerlik die eienaardigste laerskool van daardie dae: Afrikaans- Engels en Duitsmedium onder een dak.

Die eerste uitgawe van Boertjie het groot belangstelling gewek. Gegrond op die baie kommentare is die tweede uitgawe van Boertjie deur die skrywer noukeurig deurgewerk en verander.

ʼn Gedig uit die boek Boertjie:

Afrikaans is trots, springlewendig, twis en stry, sing en lag in vrolike, kleurige, geurige beelde:
Fantasties beskrywend, “tuinslang” vir “pyp” is voorbeeld van sy onmeetlike woordeweelde!
Rugsteunend is woorde van geloof, van sterkte en hoop, wat siekes en swakkes opbeur.
In alles is Afrikaans tuis, dit kan dig en bid, troos, grappig of dreigend klets, skinder en versteur.
Klein Ondeug, moeders sorg en skat, haar lus, haar las, haar vreug:
Aangrypend die krag, die helder, suiwer klank van iedere woord verheug!
Altyd volmaak: Die taal se woorde dans parmantig en speel, van heelhartige emosies gedrewe,
Natuurlik en propvol geesdrif, borrelend vrolik, kragtig en kielierig spontaan of volkome verhewe:
So gee die uitgekryte, vergruisde en verdoemde taal dag vir dag woorde vir ons ganse lewe.
Is jy dalk die duiwel in, neerslagtig weer, ongelukkig, sonder hoop? Is jou hart baie seer?
Sien, Afrikaans is kragdadig en ryp, ook daarvoor is daar woorde wat kielie en knyp:
Dan is woorde soos ‘deksels’, ‘eina!’, ‘sjoe’, ‘tjankbalie’, ‘ditsem’, ‘aitsa’ en ‘siestog’ gevra,
In verdigsels of ‘wolhaarstories’ vertel jy langdradig wat jou in jou lewe so vreeslik, so triestig pla.
Eie die dubbele ‘nie’, want met ‘Nie meer nie!’ hou jy op met kla en jy sê ‘Ja-nee’ vir jou ‘Ja!’
Treffend is die Afrikaanse woord in klank, in duidelikheid en mening,
Altyd vir alles gereed, van vloek tot gebed, versoening en seëning.
Alles word netjies en presies en klankvol bewoord, in die geroesemoes van ons lewe vasgepen:
Lewendigheid, erns en spot, hoop, geloof en krag is dit wat Afrikaans altyd weer sal laat wen!

In Namibië is die boeke by alle boekwinkels in voorraad. Navrae in dié verband aan [email protected].

Vir alle ander lande kan jy hier klik om jou boek te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.