Boek: Brandwaterkom

558d46d468480b68da18b811.jpgAlexander Strachan

Esther van Emmenes het nie die bakkie hoor stilhou nie. Sy loop heeltemal ingedagte tussen die ou grafstene in die Fouriesburgse begraafplaas rond. Soekend. Dit is trouens waarom sy op dié Vrystaatse dorpie kom woon het, om haar soektog te vergemaklik, om naby die bronne vir haar navorsing te wees. Sy wou veral naby die Brandwaterkom wees, omdat dit is waar die onderwerp van haar studie, kommandant Fanie Vilonel, se verraderlike optrede gedurende die Anglo-Boereoorlog daartoe gelei het dat meer as vierduisend Boerekrygers oorgegee het. Maar selfs hier waar sy in die verwaarloosde begraafplaas rondsoek, is sy bewus daarvan dat haar navorsing die afgelope ruk onvoorsiene dimensies bygekry het, hoogs persoonlike dimensies. Vilonel se lewensverhaal dreig om haar lewe te oorwoeker. Sy koue hartstog. Sy verraad. Maar dan hoor Esther die bakkiedeur klap en kyk verskrik om. Deur die hek van die begraafplaas kom ’n man aangeloop. ’n Onbekende man. Hy steek sy hand na haar uit en sê sy naam is Bullet. Hy sê hy wil haar iets wys wat vir haar navorsing baie sal beteken.

Voor die oorlog was kommandant S.G. Vilonel ’n charismatiese prokureur op Senekal; op die slagveld was hy een van die dodelikste skuts wat nog in aksie gesien is. Hy word egter veral onthou om sy verraad in die winter van 1900 en sy aktiewe deelname aan die oorlog teen sy eie mense.

Alexander Strachan se Brandwaterkom is ’n dubbelloop-roman: Dit is enersyds ’n aangrypende, bloedstollende verhaal oor die lewe van een van die berugste Boereoffisiere, andersyds is dit ’n boeiende ondersoek na die verleidelike, soms selfs verraderlike manier waarop verhale van ons besit neem en ons verbeelding op loop jaag.  Met verbluffende vernuf trek Strachan albei snellers van die roman gelyk af.

Oor die outeur

Alexander Strachan se debuutbundel kortverhale, ’n Wêreld sonder grense (1984), is met die Eugène Marais-prys bekroon. ’n Wêreld sonder grense maak saam met die werk van ander skrywers (soos JC Steyn, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo) deel uit van grensliteratuur. Daarna verskyn die romans Die jakkalsjagter (1990) en Die werfbobbejaan (1994). Laasgenoemde het die WA Hofmeyr-prys ontvang.

Alexander se derde roman, Dwaalpoort (2010), het in 2011 die W.A. Hofmeyr-prys gewen.

Alexander is op 9 Junie 1955 in die distrik Ladysmith in KwaZulu-Natal gebore. Hy matrikuleer in 1972 aan die Hoër Landbouskool Tweespruit. Ná studie in tale aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (en later in literatuur-wetenskap aan Unisa) word hy professor in Zoeloe aan die Universiteit van Zoeloeland. Ná sy bedanking skryf hy voltyds en sit sy wildboerdery voort. Alexander is ’n vlot Zoeloespreker en hou hom deeltyds besig met industriële teater wat hy volledig via die medium van die inheemse tale aanbied.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R240,00*
*Prys onderhewig aan verandering

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.