Boek: ‘Bure van nature – Waar mens en natuur skouers skuur’

Hennie van Deventer

Die stories in Bure van nature – Waar mens en natuur skouers skuur is inheems soos kremetartbome en onderhoudend soos ʼn kuier om ʼn hardekoolvuur.

Hennie van Deventer en sy vrou het ʼn huis in Sabiepark, ʼn private natuurreservaat aan die Sabierivier. Hier het wilde diere name, soos die luiperd Vin Diesel en die vlakvark Brood, en waar ongenooide gaste soos ʼn hiëna vir aandete by die stoeptafel opdaag.

Die egpaar het met die jare boekgehou van buitengewone verskynings en gebeurtenisse. Hennie se stories oor Sabiepark en die Wildtuin blaai die veld oop en gee ons ʼn intieme kykie op wilde diere. Dit stem tot nadenke, soos die uitstekende “Skurwe slaapmaats” waar lesers leer hoe om ʼn olifant te benader: met groot nederigheid, neergeslane oë en geknakte nek. Daar is interessante inligting, soos dat baldadige jong olifantbulle uit die trop verban word totdat hulle geleer het om hulle te gedra en dat olifantkalwers 100 tot 120 kg kan weeg.

Oor die skrywer

Van Deventer was met sy uittrede in 1998 die uitvoerende hoof van Naspers se koerantafdeling. Hy was 12 jaar redakteur van die Volksblad in Bloemfontein. Naspers het in 1997 sy hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, aan Van Deventer toegeken vir die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het. Hy was ook die ontvanger van verskeie ander eerbewyse van verskeie instansies.

Prys: R250,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by
Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.