Boek: Buys – ‘n Grensroman

buys n grensroman

Willem Anker

Coenraad de Buys was die gevaarlikste man in die Kolonie.

Op agtjarige ouderdom het hy sy eerste grens oorgesteek en sy ouerhuis agtergelaat. Huis-uit, Kaap-uit, beskawing-uit. Uiteindelik wêrelduit.

Van die Langkloof swerf Buys – oftewel Khula, Koning van die Basters, veelwywer, rampokker, swendelaar, voëlvry-verklaarde, uitvaagsel, pes van die regering, reus − deur die onrustige landskap van die laat sewentienhonderds. Hy bly anderkant die Vis by Xhosa-opperhoof Ngqika, wat soos sy seun is. Hy bly by die Tamboekies; in die republiek van Graaff-Reinet; op die trekpad. Oral trek hy saam met en sonder Maria, Nombini, Elizabeth en ander vroue. Oral verwek hy kinders; oral sluit ander rowers en weglopers by hom aan – ’n ganske Buysvolk. Hy dikteer self die reisiger-skrywer Lichtenstein se beskrywing van die legende Buys. Hy tolk tussen Brit en Xhosa en praat deurgaans net sy eie woorde.

En oral op sy drosterpad is daar die honde, altyd die honde en die af-oor gedierte wat Buys se jeukvoete op die pad gesit het. Op Buys se spoor, in sy kop, om sy kampvuur draai die kwylende bekke rond.

Hy word gebore in die Langkloof. Hy sterf teen die oewer van die Limpopo. Maar Buys is nie dood nie.

Buys is ’n roman oor grense en oor grond. Dit vertel waar ons vandaan kom.

Oor die outeur:
Willem Anker is in 1979 op Citrusdal gebore en matrikuleer in 1996 aan Hugenote Hoërskool op Wellington. Hy het al gewerk as kroegman, wewer, sekuriteitswag en vir twee dae by ‘n verhuisingsbesigheid, maar tans doseer hy kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het ook in 2007 sy D.Litt aan die US behaal.
Willem Anker se eerste roman, Siegfried (Kwela, 2007), is met die UJ-prys vir debuutwerke, sowel as die Jan Rabie/rapportprys bekroon. Intussen het hy as skrywer van bekroonde en opspraakwekkende teatertekste soos Slaghuis, Skrapnel, Sielsiek, Smag (vertaling), Skroothonde en Samsa-masjien bekend geraak.

Uitgewer: Kwela
Prys: R245-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.