Boek: Bybelse herkoms van Afrikaanse sêgoed

In Met een voet in die Bybel ondersoek ds. Gert Janse van Rensburg sowat 800 Afrikaanse spreekwoorde, vaste uitdrukkings, idiome en gesegdes wat op een of ander manier na die Bybel herlei kan word. Hy verskaf inligting oor die Bybelse herkoms aan die hand van meer as 2 000 Skrifgedeeltes, teologiese verduidelikings en tussendeur word die inhoud met ʼn tikkie humor aangebied.

Die boek is geskik vir Bybellesers en -studente, gesellige gesinsaande tydens die afsonderingstydperk, skoliere wat hul opstelpunte wil verbeter, individuele of groepbybelstudie, asook teoloë en taalpraktisyns.

Janse van Rensburg het vroeg reeds besluit dat ʼn gedeelte van die verkope van die boek geskenk moet word aan Solidariteit Helpende Hand se projekte vir bejaarde persone.

Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, sê die organisasie is dankbaar vir Janse van Rensburg se bydrae tot Afrikaans. Noëth beskryf die boek as “ʼn kosbare stukkie erfenis in die mond en in die hart van Afrikaanssprekendes”.

“Die publikasie is vir ons juis besonders omdat dit wys hoe die taal van die Bybel van die begin af in die lewe van ons mense gepraat is,” sê hy. “Dit is kosbaar om deel hiervan te wees. Die taal wat ʼn mens praat getuig van wie jy is.”

Helpende Hand het reeds vir elke ere-ondersteuner ouer as 90 ʼn eksemplaar bestel wat hulle as geskenke sal ontvang.

Hier is ʼn voorsmakie uit Met een voet in die Bybel:

Uitdrukking: Die helfte is my nie vertel nie
Betekenis: Daar is meer verrassings as die waarvan ek gehoor/verwag het.
Waar kom dit vandaan? Koning Salomo se wysheid en welvaart bereik selfs die koningin van Skeba, ʼn welvarende ryk iewers in die suide van Arabië. Die koningin van Skeba onderneem ʼn weke lange reis vir ʼn staatsbesoek in Jerusalem en wat sy daar aanskou en hoor, slaan haar asem weg. Sy sê aan Salomo dat wat sy tuis gehoor het nie die helfte is van wat hier te sien is nie. Sy besing ook die lof van die God van Israel. ʼn Duisend jaar later sê die Here Jesus dié koningin sal op die oordeelsdag ʼn voorbeeld vir die ongelowige godsvolk wees (Sien 1 Konings 10:1-10; 2 Kronieke 9:6 en Matteus 12:42). Dié spreekwoord is behoorlik by ouer Afrikaanssprekendes ingeskerp as die eerste reël van die koor (refrein) van ʼn Hallelujalied “O, ek weet van die Godstad so heerlik,” waarin die heerlikheid van die nuwe Jerusalem (die hemel) besing word.

Oor die skrywer

Gert Janse van Rensburg is in 1933 op Pofadder, tussen die Noord-Kaapse Boesmanland en Namakwaland, gebore. Hy het aan die Hoërskool Upington gematrikuleer en daarna aan die PU vir CHO studeer en ’n BSc-graad verwerf.

Na agt jaar se diens in die Suid-Afrikaanse Weermag het hy sy studie voortgesit en sy graad in teologie aan die Universiteit van Pretoria en ʼn meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Janse van Rensburg dien agtereenvolgens in die Nederduitse Gereformeerde Kerk se gemeentes in Swellendam, Upington-Noord en Potchefstroom-Noord (as studenteleraar). Daarna tree hy in diens van die Noord-Kaapse sinode waar hy verantwoordelik is vir die jeug, sendingwerk en evangelisasie. Janse van Rensburg het geëmeriteer ná sy bediening in die Kimberley-Vooruitsig-gemeente.

Sedertdien het Janse van Rensburg eie biografie geskryf asook dié van sy oupa en pa. Hy was 50 jaar met Bessie de Jager getroud. Na haar dood is hy met Ria Naudé getroud. Dié egpaar het saam ses kinders, 12 kleinkinders en drie agterkleinkinders.

  • Met een voet in die Bybel deur Gert Janse van Rensburg kos R250 en is aanlyn beskikbaar. Om die boek te koop, stuur ʼn e-pos na Janse van Rensburg by [email protected].
  • Janse van Rensburg bedank die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) vir ruim finansiële steun wat die navorsing moontlik gemaak het. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Karina

Ek gaan kyk of ek die boek in die hande kan kry, dit lyk nogals baie interressant.