Boek: Chuck Norris kan deel deur nul

chuck norris kan deel deur nul

Annelie Ferreira

‘n Lokprent vir die boek volg onderaan die berig. Albert kom agter dat sy suster Marlie skielik vreemd optree. Sy is vriendelik. Baie vreemd vir ’n sestienjarige ousus. Dan is daar nog die skoolboelie wat hom afknou, ’n ouma wat nie altyd normale gedrag toon nie, ’n pa wat te hard werk, en die moontlikheid dat sy ma nie dood is soos wat hy aanvanklik gedink het nie. Gooi verder ’n paar Chuck Norris-grappe in die mengsel, en die lewe kan redelik ingewikkeld raak vir Albert. Dinge kry egter ’n wending wanneer die buurvrou oorkant die straat in kraam gaan en Albert en die boelie die enigstes is wat haar kan help.

Chuck Norris kan deel deur nul is die verhaal van die veertienjarige Albert en sy gesin, die aanpassings en uitdagings van twee tieners wat in ‘n nuwe lewensfase die gemis vir ‘n ma voel, ‘n praktiese loodgieterpa wat nie besef hoe nodig sy kinders hom het nie, ‘n onkonvensionele ouma wat vergeetagtig raak en al die mense met wie hulle paaie kruis.

Oor die outeur:
Na ’n BA en diploma in Vertaling aan die US het Annelie as taalpraktisyn en subredakteur by Sanlam se Taaldienskantoor en Human & Rousseau Uitgewers gewerk. Daarna volg deeltydse- en vryskutwerk vir ’n verskeidenheid uitgewers en publikasies. Sy publiseer ’n aantal nie-fiksieboeke, onder andere Daar’s ’n mens binne, Die dag toe ons God gevang het en Eva ontmoet Einstein, asook ’n roman, Hoekom honde nie kan sing nie. Sy was die samesteller van Paaie, ’n boek oor verskillende godsdiensperspektiewe. Sy is getroud, met twee dogters, en bly tans in Bristol, Engeland, waar haar man as aktuaris werk. Sy reis gereeld terug na hulle huis in Durbanville.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R140-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.