Boek: Clint Fryer en die helde van Huis Hindernis

Anzil Kulsen

Clint Fryer is deel van ʼn groep kinders wat in Huis Helderlig bly, maar al die kinders noem dit sommer Huis Hindernis. Matrone Busiswe meen die kinders wat alewig onder haar voete is, is net ʼn hindernis vir haar. Min weet sy van die avonture wat die kinders beleef!

In Die soektog besef die kinders alles is nie pluis nie. Eers kry hulle nie meer iets soets om te eet nie en dan hoor hulle daar is nie genoeg geld vir hulle om aan sportaktiwiteite deel te neem nie. Dit is veral onregverdig omdat Verna op pad was om aan die nasionale danskampioenskap deel te neem. Die mislike Dedrei, die dogter van die welsyntannie, mag dan nog steeds deelneem. Clint en sy maats besluit om ʼn soektog van stapel te stuur en uit te vind wat aangaan…

In Partytjiepret moet Dedrei boet vir haar sabotasieplan wat amper daartoe gelei het dat sy nie aan die danskompetisie kan deelneem nie. Dedrei moet help om die vloere van die kinderhuis te was en vinnig genoeg sien Clint en die res van die kinders dat Dedrei nie so sleg is nie. Die kinders besluit om Dedrei by haar verjaardagpartytjie te gaan verras…

Die Clint Fryer-verhale is deur Anzil Kulsen geskryf en deur André Trantraal geïllustreer. Dit het onlangs by Lapa Uitgewers verskyn en is geskik vir kinders sewe jaar en ouer.

Oor die skrywer

Kulsen is op Upington gebore en het aan die Hoërskool Oranjezicht matriek behaal. Sy het in 2000 ʼn sertifikaat in kreatiewe skryfwerk van The Writer’s Bureau of London verwerf, en in 2006 het haar jeugroman Zita by Lapa Uitgewers verskyn.

Oor die illustreerder

Trantraal is ʼn skrywer, illustreerder en vertaler. Trantraal is die skrywer van die strokiesprentboeke Stormkaap en Coloureds. Sy Kaapse en Engelse strokiesprente het al in Beeld, Die Burger, Rapport, Cape Argus en Cape Times verskyn en is in Hamburg, Amsterdam en Kaapstad uitgestal. Trantraal se Engelse vertalings van sy broer, Nathan Trantraal, se Kaapse gedigte het in ʼn uitgawe van die New England Journal verskyn. Hy en sy broer werk gereeld saam en is baanbrekers in die bevordering van Kaapse Afrikaans.

Prys: R145,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.