Boek: Daar doer in die fliek

Daar-doer-in-die-fliekLeon van Nierop

Daar doer in die fliek sluit aan by die televisiereeks met dieselfde naam wat op kykNet uitgesaai is. Die omvangryke boek gee ’n oorsig oor die ontwikkeling van Afrikaanse rolprente vanaf die heel vroegste stilprente tot en met die heel nuutste rolprente van ons tyd. Dié geskiedenis begin met die dokumentêre films wat tydens die Anglo-Boereoorlog gemaak is en die epiese De Voortrekkers uit die tyd van die stilprente.

Daarna word gedetailleerde aandag aan elke dekade van die 20ste eeu gegee met belangrike figure soos Pierre de Wet, Jamie Uys, Emil Nofal Jans Rautenbach, Katinka Heyns, Leon Schuster en Dirk de Villiers. Die titel is ontleen aan Jamie Uys se baanbreker-rolprent van 1951,  Daar doer in die bosveld, wat die begin was van Uys se hoogs suksesvolle loopbaan met rolprente soos Lord oom Piet  en die internasionale treffer The gods must be crazy. Van Nierop kon gebruik maak van skaars rolprente in kykNet se videoteek en in die Nasionale Filmargief.

Talle onderhoude met akteurs, regisseurs en vervaardigers gee eerstehandse inligting oor die vervaardiging van bekende en suksesvolle rolprente. Alhoewel die klem op Afrikaanse rolprente val, word ook na baanbreker-rolprente in Engels en die inheemse tale verwys.

Ten slotte word besondere aandag gegee aan die opbloei van die Afrikaanse rolprente in die eerste twee dekades van die 21ste eeu, waardeur talentvolle mense die geleentheid kry om aan hul drome uiting te gee.

Die boek is Leon van Nierop se huldeblyk aan een van die oudste rolprentindustrieë in die wêreld. Die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse rolprentkuns word met ’n groot aantal foto’s geïllustreer.

Oor die outeur

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, skrywer van romans, radio- en televisievervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling en die draaiboeke van die roplrente gebaseer op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R350.00
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.