Boek: Die aardigste kinders en onnies op aarde

David Williams

Net toe jy dink dit is veilig om terug na jou boekrak te gaan… tien nóg aardiger kinders! Van die tienjarige Pieter en die eindelose poetse waaraan hy sy arme familie onderwerp tot by Vicky en haar geweldige vloermoere.

Miskien het jy al een van die aardigste kinders op aarde ontmoet. Maar dit is nie die ergste nie. Wag totdat jy die aardigste onnies op aarde ontmoet!

Die aardigste kinders op aarde 3 en Die aardigste onnies op aarde uit die pen van David Walliams is geskik vir kinders tussen ses en nege jaar.

Oor die skrywer

Meer as 25 miljoen eksemplare van David Walliams se boeke het al verkoop, en is sover in meer as 53 tale vertaal – Afrikaans ingesluit.

Mr Stink (Mnr. Stink, 2016), The Boy in the Dress (wat in 2017 as Die seun in die rok by Protea verskyn het), Gangsta Granny (Ouma is ’n kroek, 2015) en Billionaire Boy (Boudebiljoenêr, 2016) is aangepas vir Britse televisie. Ratburger (Rotburger, 2015) en Demon Dentist (Die tandeterroris, 2017) het albei die National Book Awards  se kinderboek van die jaar in Brittanje gewen. Dit is geen verrassing dat Walliams in dieselfde asem as sy held Roald Dahl genoem word nie.

Oor die vertaler

Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboek­vertalings van outeurs soos JK Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat, en in 2018 vir MG Leonard se Kewerknaap. In 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het. Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasieprente vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer Geldenhuys nie besig is met vertaalwerk nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater, Binnelanders en Suidooster.

Oor die illustreerders

Tony Ross is ’n suksesvolle kinderboekillustreerder wat bekend is vir titels soos Harry the Poisonous Centipede deur Lynne Reid Banks, en die Little Wolf-reeks deur Ian Whybrow.

Quentin Blake is een van Brittanje se geliefdste illustreerders en spotprenttekenaars. Hy is veral bekend vir sy samewerking met outeurs soos Roald Dahl, en sy illustrasies het verskeie pryse verower, wat die Hans Christian Andersen-prys vir illustrasie insluit.

Prys: R295,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop Die aardigste onnies op aarde en Die aardigste kinders op aarde 3 by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.