Boek: Die Afrikanerrebellie, 1914-1915

afrikanerrebellie

Danie Langner en Andries Raath

Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 (onder redaksie van Andries Raath en Danie Langner) verskyn in die honderdste herdenkingsjaar van ʼn gebeurtenis waartydens broer teen broer, vader teenoor seun en vriend teenoor vriend te staan gekom het. Die effek van die Rebellie van 1914-1915 is binne die kern van Afrikanergeledere ervaar – in die staat, kerk en volk.

Dié boek – uit die pen van 12 vooraanstaande historici – ondersoek die prominente persone en gebeure en die nadraai van die Rebellie. Dié opspraakwekkende gebeurtenis het gespruit uit die besluit van die Unieregering om Suid-Afrika aktief aan die kant van Brittanje by die Eerste Wêreldoorlog te betrek en Suid-Afrika se Duits-beheerde buurland Suidwes-Afrika binne te val. Boereleiers Koos de la Rey, Christiaan de Wet en Christiaan Beyers was om verskeie uiteenlopende redes teen die Suidwesveldtog gekant.

De la Rey, wat op 15 September 1914 in ʼn padblokkade in Langlaagte, Johannesburg doodgeskiet is, se dood het as’t ware die begin van die Rebellie ingelui. Tydens sy begrafnis het Beyers en De Wet besluit om vergaderings te hou om die volk oor moontlike optrede teen die regering te raadpleeg. Die afkondiging van krygswet op 12 Oktober 1914 het egter die hou van volksvergaderings verbied, wat die protesteerders gedwing het om verdere optrede te heroorweeg. Die leiers van die protesteerders het uiteindelik grootliks individueel opgetree en self inisiatief vir verdere optrede geneem – dus was daar geen sprake van beplande gekoördineerde optrede tydens die Rebellie nie.

Die Rebellie het die verdrinking van Beyers in die Vaalrivier, die inhegtenisname van De Wet, die teregstelling van Jopie Fourie en die oorgawe van Manie Maritz tot gevolg gehad. Talle rebelle wat aan die opstand deelgeneem het, is ook in hegtenis geneem en tot tronkstraf gevonnis. Dekades lank is die politieke en emosionele verdeeldheid na aanleiding van die Rebellie steeds gevoel.

Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 neem dié gebeure met ʼn groter mate van ewewigtigheid en objektiwiteit onder die loep en bring die gebeure tuis met die gebruik van bykans 200 gerestoureerde historiese foto’s.

Skrywers sluit in: André Wessels, Andries Raath, Danie Goosen, Danie Langner, Flip du Toit, Jaap Steyn, Jackie Grobler, Johan Schoeman, Leopold Scholtz, Marthinus van Bart, Pieter Möller en Wynand Boshoff.

Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 is die sesde boek in Kraal Uitgewers se gewilde Die
erwe van ons vaad’re
-reeks. Vorige titels in die reeks sluit in: Onthou! Kronieke van
vroue- en kinderlyding, 1899-1902
; Bannelinge in die vreemde; De la Rey: ʼn Stryd vir
vryheid
; ʼn Bittereinde vrede; en Smarte van die oorlog.

Uitgewer: Kraal Uitgewers
Prys: R480-00* (posgeld uitgesluit)
Om die boek te bestel, SMS “Rebel” na 34802, besoek www.kraaluitgewers.co.za of skakel 012 644 4329.
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.