Boek: ‘Die Anglo-Boereoorlog in kleur’ – Tinus le Roux

Tinus le Roux

Tonele en rolspelers uit die Anglo-Boereoorlog kry nuwe lewe in hierdie unieke versameling foto’s wat lewensgetrou ingekleur is. Dit bring ʼn vars perspektief op een van die belangrikste historiese gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

In die Anglo-Boereoorlog, of Suid-Afrikaanse Oorlog, het die twee Boererepublieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat teen die Britse Ryk te staan gekom. Hierdie verwoestende oorlog sou dekades lank nog ʼn uitwerking hê op die Suid-Afrikaanse politieke, ekonomiese en sosiale landskap.

Volume 1 handel oor die konvensionele fase van die oorlog van Oktober 1899 tot Junie 1900 met Lord Roberts se besetting van die Boererepublieke. Die foto’s wys die Boeremagte se invalle in Natal en die Kaapkolonie, die besetting van Ladysmith, Kimberley en Mafeking, en van die bekendste slagvelde van die oorlog.

Lesers sal talle ikoniese foto’s in Die Anglo-Boereoorlog in kleur raaksien, maar ook verskeie wat nog nooit tevore gepubliseer is nie. Honderde boeke het die afgelope 120 jaar oor die oorlog verskyn, maar dit is die eerste een in volkleur.

Die Anglo-Boereoorlog in kleur deur Tinus le Roux het pas by Jonathan Ball verskyn.

Oor die skrywer

Le Roux is ’n militêre‑geskiedenis-entoesias wat al sedert 2014 foto’s van die Anglo-Boereoorlog inkleur. Hy kleur ook foto’s uit die Tweede Wêreldoorlog in, spesifiek dié wat met die Suid-Afrikaanse Lugmag verband hou. Etlike van sy foto’s is al in boeke gepubliseer en sy Facebook-bladsy, Boer War Colourised Photographs, het duisende lojale volgelinge. Wanneer hy nie foto’s inkleur of op sy bergfiets rondry nie, besit en bestuur Le Roux ’n koringmeule in Kaapstad. Hy het vroeër jare as ’n ontwerp-ingenieur by Denel gewerk.

Prys: R350,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.