Boek: Die avonture van Kuifie

Die avonture van Kuifie is baie gewild onder lesers van alle ouderdomme. Dit is ’n bekende reeks wat meer as 10 jaar gelede deur Human & Rousseau in Afrikaans gepubliseer is. Die Afrikaanse boeke is skaars en moeilik bekombaar en daar sal dus ’n groot aanvraag na dié heruitgawes wees.

Die avonture van Kuifie: Die 7 kristalballe

In Die 7 kristalballe keer die Sanders-Hardmuth-ekspedisie na Europa terug ná ’n lang reis deur Peru en Bolivia. Hulle bring die mummie van Raskar Kapak saam met hulle terug. Professor Sonneblom voorspel dat daar niks goeds van hierdie grafskending gaan kom nie. Een na die ander verval die sewe wetenskaplikes wat aan die ekspedisie deelgeneem het in ’n vreemde koma, en telkens word kristalskerwe op die toneel gevind. Brits en Britz se hulp word ingeroep om die saak te ondersoek. Intussen word professor Sonneblom ontvoer en Kuifie, Spokie en kaptein Sardijn vertrek na Suid-Amerika om hom te probeer opspoor.

Die avonture van Kuifie: Die geheimsinnige ster

In Die geheimsinnige ster is ’n meteoriet op pad na die aarde toe. Professor Katalis van die Sterrewag se voorspelling dat dit die einde van die wêreld is, word nie bewaarheid nie wanneer die meteoriet die aarde mis en ’n fragment daarvan in die Poolsee land. Saam met ’n groep wetenskaplikes vertrek Kuifie, Spokie en kaptein Sardijn op ’n ekspedisie om die stuk meteoriet te gaan bestudeer. Hulle is egter nie die enigstes wat so ’n ontdekkingstog onderneem nie en gou ontaard dit in ’n spannende resies om eerste daar uit te kom. Professor Katalis het reeds ’n nuwe metaal in die meteoriet bespeur en daar is baie op die spel.

Die avonture van Kuifie: Kuifie in Amerika

In Kuifie in Amerika reis Kuifie en Spokie na Chicago om die stad se bendes vas te trek. Met sy aankoms kry hy reeds met die berugte Al Capone en twee van sy trawante te doen. Hy ontmoet ook Capone se teenstander, die bendeleier Bobby Smiles. Die bendes doen alles in hulle vermoë om hom te stuit: Hulle probeer hom vergiftig en verdrink, ontvoer vir Spokie en oortuig die Indiane in ’n nabygeleë reservaat dat Kuifie hulle vyand is. Sal Kuifie die stryd teen die bendes wen of gaan hy en Spokie in die Slift-fabriek se blikkieskos opeindig?

Agtergrond

Die avonture van Kuifie is oorspronklik in Frans gepubliseer met die titel Les Aventures de Tintin et Milou. Dit is een van die gewildste strokiesverhale wat in die twintigste eeu verskyn en is vandag steeds populêr. Die boeke word in ongeveer 60 tale vertaal. Die hoofkarakter van die verhale is die jong Belgiese verslaggewer Kuifie. Saam met sy hond, Spokie, beleef hy verskeie avonture.

Die eerste verhaal van Kuifie verskyn op 10 Januarie 1929 as ’n bylae tot die Franstalige Brusselse koerant Le Vingtième Siècle. Hergé skryf en teken in die tydperk tussen 1929 en 1976 23 strokiesverhale, waarvan die vier-en-twintigste verhaal onvoltooi is.

Oor die outeur

Die Belgiese skrywer en illustreerder Georges Prosper Remi, oftewel Hergé (1907‑1983), staan bekend as die vader van die moderne strokiesprent. Vir sy latere werke doen hy uitgebreide navorsing om die verhale so outentiek moontlik te maak.

Oor die vertaler

Sonya van Schalkwyk-Barrois woon in Parys, Frankryk. Sy het by die Universiteit Stellenbosch gestudeer en het ’n meestersgraad in Frans. Sy is ook die vertaler van die Asterix-boeke, wat ook deur Protea gepubliseer word.

Genre: Strokiesverhaal
Ouderdom: 9 jaar en ouer
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R130,00*

*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boeke by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae