Boek: Die beste kinderverse van Tienie Holloway

Met Die beste kinderverse van Tienie Holloway kan oud en jonk van voor af die vreugde van Tienie Holloway-verse ontdek en in die proses terugkeer na die eenvoud van doodgewone dinge: padkos, pannekoek, pantoffels wat slof, touspring, ’n windpomp, waatlemoen, ’n toktokkie wat klop of sommer net appelkooskonfyt op ’n sny brood.

Vandag is daar amper nie ’n generasie wat nie hier en daar ’n versreël of strofe uit ’n Tienie Holloway-vers onthou nie. Ongelukkig is haar bundels yl gesaai en nog net hier en daar op ’n biblioteekrak op ’n plattelandse dorp te vinde.

Die beste kinderverse van Tienie Holloway is deur Wendy Maartens saamgestel en het pragtige volkleurillustrasies deur Alida Bothma.

Oor die skrywer

Tienie Holloway (1888–1967) het ʼn belangrike bydrae tot Afrikaanse kinderverse gelewer in ʼn tyd toe daar ʼn skaarste aan goeie leesstof vir kinders was. Aanvanklik het sy bekende Engelse kleuterryme in Afrikaans vertaal; later is haar eie werk gepubliseer in Die Volkstem onder die skuilnaam Madelief. Later het Die Haasbekkies en ander versies (1938), Hasie Kalbassie (1945), Nuwe kleuterversies (1947), Doempie Domkop (1949), Martha-hulle (1951) en Nuwe kinderversies (1955) die lig gesien.

Ná Holloway se dood is die Tienie Holloway-medalje deur haar eggenoot geïnisieer en in 1970 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingestel. Dit is ʼn toekenning vir oorspronklike Afrikaanse kleuterlektuur, vir kinders jonger as agt jaar, spesifiek gerig op kinderverse. Sy is postuum met die Holloway-medalje vereer vir twee bloemlesings uit haar werk wat by Human & Rousseau verskyn, naamlik Rympies van Tienie Holloway (1977) en Versies van Tienie Holloway (1978).

Oor die samesteller

Wendy Maartens woon in Table View, ʼn klipgooi van die “groot blou dam”, Rietvlei se strandmeer en die Weskus. Dit is waar alles om die draai van die gety, vroegoggend se vangs en die stories van vroeër dwaal. Maartens is ʼn kinderboekskrywer, joernalis, vertaler en dromer. In 2005 het Lena se bottelboom Exclusive Books se “Publisher’s Choice”-lys gehaal en in 2006 het Maartens ’n eervolle vermelding by die Noma-toekennings ontvang. Sy was ook twee keer ʼn finalis by die ATKV se Veertjie-toekennings: in 2006 vir Lena se Bottelboom en in 2007 vir ʼn rubriek.

Oor die illustreerder

Alida Bothma het grafiese ontwerp studeer aan die kunsskool van die Technikon in Kaapstad. Sy is bekroon met die MER-medalje vir Goue fluit, my storie is uit (1988), die Katrine Harries-medalje vir Al Everest se voëls en Die aarde moet vry wees (albei in 1985) en ATKV-toekennings vir Kariena Karyn (1993), Stippe Stappe Stories (1997) en Steweltjies na Wonderland (2000). Bothma is op internasionale vlak veree  met die NOMA Concours in Japan se meriete-toekenning vir illustrasies van Die wit vlinder (1994) en ʼn brons-medalje vir Woordreise (2005). Sy en haar man woon op Greyton.

Prys: R250,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.