Boek: ‘Die Christen en sy werk’

Deur Paul Maritz

 “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie.”

Hierdie woorde uit Eksodus 20 is baie bekend, juis omdat dit so gereeld voorgehou word as deel van die Wet van die Here. Wanneer die vierde gebod opgesom word, is die fokus dikwels, tereg, op die Sabbat, die idee dat die mens op die sewende dag nie mag werk nie. Dit is egter van groot belang dat hierdie gebod se eerste bevel duidelik stel dat die gelowige vir ses dae moet werk, en al sy werk moet doen.

Die tema van werk is vandag steeds vir mense ʼn gewigtige kwessie. Heelparty mense rig hul ganse lewens rondom hul werk in. Die dorpe waar hul woon, skole waar hul kinders onderrig ontvang, toekomsplanne wat hul maak en selfs vriende wat hulle kies word geweldig beïnvloed deur hul werk.

Vir die Christen het werk buiten vir hierdie meer oppervlakkige fokusareas ook verskeie dieper betekenisse. Wat is die verband tussen ons werk en ons identiteit?  Hoe skakel ons geloof en ons werk by mekaar in? Hoe dink ʼn Christen oor rus, kompetisie en werksverslawing? Christene worstel ook baie met die saak om hulle geloof in verband te bring met die verpligtinge en praktyke by die werkplek. Sake soos hoe om ’n moeilike werkgewer te hanteer, of hoe om as bestuurder werklik Christelik op te tree?

Begrond, die Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry, bring binnekort ʼn aktuele publikasie uit genaamd Die Christen en sy werk.

Onder redaksie van Wikus Buys en Paul Maritz word die besondere band tussen die Christen en sy werk deur verskeie medewerkers behandel – elk met ’n unieke fokusarea wat spruit uit hul daaglikse aktiwiteite en werksaamhede.

Met skrywers soos Flip Buys, Dirk Hermann, Hannes Noëth, Gideon du Plessis en Marisa Engelbrecht sal die boek stof tot nadenke bevat, maar ook praktiese riglyne oor hoe om as Christen jou werk en die wêreld van werk te benader.

  • Die voorblad, inhoudsopgawe en eerste hoofstuk van dié boek kan hier afgelaai word. Belangstellendes kan ook hul besonderhede invul op die webblad om te verseker dat hulle ʼn eksemplaar van die boek kan bestel sodra dit beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.