Jean Lombard
In hierdie bloemlesing ontvou die wonderwêreld van mites oor verskeie kulture en grense heen. In Die ding in die riete ontmoet ons opnuut die bose slang in die Skeppingsverhaal, maak ons kennis met die Khoisan se waterslang en al sy seksuele en lyflike konnotasies en leer ken ons die Chinese uitbeelding van Kwan-Yin, ‘n slang van wysheid. Om nie van die meerminne en ander wonderbaarlike wesens ‘n woord te rep nie.
Antjie Krog sê: “Ek het die stories absoluut boeiend gevind en agtergekom ek sit vasgenael terwyl ek elke een van hulle lees. Die een is werklik so goed soos die ander en ek dink dit is ‘n wonderlike skat wat hier bymekaargemaak is. Ongelooflik dat ál die stories so goed is.”
Oor die samesteller:
Jean Lombard (geb. Anthonissen) is in 1952 op Calvinia in die Noord-Kaap gebore, waar sy ook haar hoërskoolloopbaan voltooi het. Sy studeer letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, Noordwes-Universiteit sowel as die Rijksuniversiteit in Utrecht, Nederland. Sy werk ook ses jaar lank as kollega van George Weideman aan die Universiteit van Namibië. In 2003 vertrek die gesin (daar is ook twee seuns) na Princeton in die V.S.A. Ná twee jaar keer hulle terug na Suid-Afrika en sedert 2006 is Jean as vryskut betrokke by diverse aktiwiteite.