Boek: Die eindelose avontuur – ’n Venster op die wêreldletterkunde

Audrey Bettie Blignaut

Die eindelose avontuur, daardie versameling essays waarmee Audrey Blignaut lesers voorstel aan boeke uit verskeie lande en tye – ’n gids vir almal wat graag wyd én onderskeidend wil lees – is pas heruitgegee deur Protea. Dié bundel het in 1993 by Tafelberg verskyn.

In dié bundel inspireer Blignaut ’n mens om Montaigne, Melville en Tolstoi te lees, sowel as Dostojewski, Flaubert, Mann, Bellow, Perec en Allende. Anna Karénina, Wuthering Heights, Tess of the D’Urbervilles, The Catcher in the Rye – dit is die soort boeke wat sy voorhou en ʼn mens se wêreld mee verruim. Sy dui ook goeie bloemlesings en letterkundige naslaanbronne aan.

Onderhoudend verskaf Blignaut inligting en insigte soos biografiese gegewens oor skrywers, publikasiegeskiedenisse, bibliografiese besonderhede, en veral besprekings van ’n werk se tema, inhoud, karaktertekening, simboliek, styl en strekking. Telkens toon sy duidelik aan waarom ’n werk ’n hoogtepunt in die wêreldletterkunde is, en bring ook die leser by die teks self uit met prikkelende aanhalings, dikwels in eie vertaling.

Blignaut se essays in Die eindelose avontuur bevestig wat sy in 1991 aan leeskringe landswyd voorgehou het: “Ten spyte van verkrummelende waardes om ons heen, ten spyte van toenemende geweld in die wêreld, is daar nog boeke wat ons kan wegvoer uit die onmiddellikheid van ons bestaan na ’n sfeer van hoër, ruimer lewe. Daar is nog boeke wat ons ons geloof in die mens laat behou.”

Oor die skrywer

Audrey Bettie Blignault (née Swart) is op 6 Julie 1916 in Bredasdorp gebore. Sy het in 1933 op dié dorp gematrikuleer en Afrikaans-letterkunde gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy het ʼn meestersgraad in Afrikaans en Nederlands, sowel as ’n Sekondêre Onderwysdiploma behaal en in 1945 die redaktrise geword van Die Huisvrou en later van Die Naweekpos. Sy het ook sedert 1946 die SAUK se Vrouerubriek-program behartig en sedert 1950 was sy ’n rubriekskrywer vir Sarie. In 1955 het haar eerste boek verskyn: In klein maat: Uit die dagboek van ’n vrou, ’n keur van haar beste bydraes in Sarie tot op daardie tydstip. Blignault het die Eugène Marais-prys in 1961 vir In klein maat en Die vrolike lied ontvang.

Blignaut het haar dekades lank vir die bevordering van leeskringe landwyd beywer. In 1965 is sy met die WA Hofmeyr-prys bekroon vir Met ligter tred. Sy het ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang asook die Italiaanse Adelaide Ristori-gedenktoekenning vir haar kulturele bydrae, en boonop in 1982’n dekorasie vir voortreflike diens van die regering. Blignault is op 1 Oktober 2008 in Kaapstad oorlede. Audrey Blignault: Uit die dagboek van ’n vrou wat in 2009 by Tafelberg verskyn, is ’n “outobiografie” saamgestel deur haar dogter, Marié Heese.

Prys: R195,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die e-boek by Graffiti Boek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae