Boek: ‘Die geheime lewe van Gita’ – Jacolet van den Berg

Jacolet van den Berg

Gita kruip al haar lewe lank agter voorgee weg; ʼn mantel vir elke okkasie. Flambojante, pienk-Gita, vir wanneer sy opspraak wil maak, swart-Gita wanneer sy wil wegraak en laag lê, rooi-Gita wanneer sy uitdagend is, en natuurlik die blinkkant-bo-baadjie as sy voor die familie is. Maar agter die mantels spook dit by Gita. Haar pa het weggeloop met ʼn ander vrou toe sy tien jaar oud was. Sedertdien sukkel sy om mense naby haar toe te laat. Niemand mag haar sien sonder ʼn mantel nie.

Wanneer haar werk deure moet sluit, pak sy haar lewe op en vertrek Knysna toe. Daar waar haar pa is. Waar sy nuwe vrou is. Waar sy nuwe kinders is. Langs die pad ontmoet sy die kleurvolle Llewellyn wat haar as verkleurvroutjie sien en sy is heeltemal oukei daarmee. Sy is wel nie oukei met die amper-blinde tjellospeler, Darius, en sy broer wat haar geheime lewe wil oopkrap nie. Skielik is daar vier baie verskillende mans in haar lewe, en Gita het nie genoeg mantels om alkant te dek nie.

Die geheime lewe van Gita is Jacolet van den Berg se eerste volwasse roman wat by Lapa Uitgewers verskyn. Haar tienerfiksieboek Tyd om te skaats was in 2019 op die kortlys van Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie.

Oor die skrywer

Van den Berg het in Bloemfontein grootgeword. Sy het BSc Dieetkunde aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer waarna sy twee jaar lank in Engeland gebly het. Ná ʼn draai in Johannesburg het sy en haar gesin in die Paarl nesgeskop waar sy, haar man en seuntjies saam met hul uitgebreide dierefamilie op ʼn pragtige Bolandse plaas woon. Met drie besige seuns gebeur alles in haar lewe deeltyds – selfs om te slaap! Tyd vir skryf word telkens beperk tot die middernagtelike ure. Nietemin is skryf een van haar passies en stories lê haar na aan die hart.

Prys: R250,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.