Boek: Die groot drie – ‘n eeu van spotprente in Die Burger

Die groot drie - Francois Verster - HRFrançois Verster

Die Groot Drie bied ’n sonderlinge blik op die opkoms, hoogbloei en uiteindelike ondergang van Afrikaner-nasionalisme vanuit die perspektief van drie wêreldklas-satirici: D.C. Boonzaier, T.O. Honiball en Fred Mouton.

Die Burger is in 1915 in die lewe geroep om as mondstuk te dien vir Afrikaners wat aan die begin van die 20ste eeu op hul knieë gedwing is deur die Anglo-Boereoorlog, verstedeliking en grootskaalse armoede. In die eerste honderd jaar van die koerant se bestaan het net dié drie kunstenaars diens gedoen as spotprenttekenaars.

Boonzaier het skerp en raak aanvalle op opponente van die Nasionale Party geloods, en die karikatuurkuns ten volle
bemeester; die veelsydige Honiball het lesers se empatie gewek met sy speelse styl; en Mouton se uitbeelding van tipies Suid-Afrikaanse tonele het van hom ’n gewilde humorskepper en belangrike meningsvormer gemaak. In hierdie boek gee François Verster, Naspers se maatskappy-argivaris, ’n onderhoudende historiese oorsig van die bydrae wat
elk van dié spotprenttekenaars gelewer het.

Geniet dié prettige insae in die skat van spotprente wat oor ’n eeu strek. Dit is kosbare geargiveerde materiaal wat nou vir die publiek beskikbaar gestel word.

Oor die outeur:
Dr. François Verster het vir 17 jaar as staatsargivaris gewerk en het in 2007 by Naspers as maatskappy-argivaris en geskiedskrywer aangesluit. Hy het drie romans en sy memoires gepubliseer, en nie-fiksiewerke insluitend Van Kaspaas tot Kaas, die lewe en werk van T.O. Honiball. Hy is die skrywer van talle artikels oor spotprente en strokieskuns vir beide vakkundige en populêre publikasies. Hy werk ook as vryskut-joernalis en is veral bekend
om sy rubriek “Geskiedenis vandag” in die streekskoerant Bolander.

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek: Takealot of Exclusive Books

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.