Boek: ‘Die Heerser van die Ringe’ – Die Koning keer terug (Deel drie)

JRR Tolkien

“Drie Ringe vir die elfkonings onder die hemelwerf,
sewe vir die dwerghere in klipsale gekroon,
nege vir mense, gedoem om te sterf,
een vir die Donker Heer op sy donker troon
in die land van Mordor waar die skaduwees draal.
Een Ring om oor almal te heers, een Ring om hulle te vind,
een Ring wat almal bring en in die duisternis saambind
in die land van Mordor waar die skaduwees draal.”

Die Kameraadskap van die Ring raak by afsonderlike avonture betrokke soos hulle sending voortduur. Aragorn, onthul as die verborge erfgenaam van die antieke Konings van die Weste, snoer kragte saam met die Ruiters van Rohan teen die magte van Isengard, en neem deel aan die desperate oorwinning van die Horingburg. Merry en Pippin, wat deur die orke gevang is, ontsnap na Fangorn-bos en kom daar in aanraking met die ente. Gandalf keer wonder bo wonder terug en verslaan die bose towenaar Saruman.

Intussen vorder Sam en Frodo op die pad na Mordor om die ring te vernietig, vergesel deur Sméagol-Gollum, wat steeds met sy “kosbare skat” behep is. Ná ’n geveg teen die reusespinnekop, Syspin, laat Sam sy meester vir dood agter. Frodo lewe egter steeds, maar is in die hande van die orke. En intussen trek die leërmagte van die Donker Heer saam.

JRR Tolkien se grootse werk is al as ’n heroïese liefdesverhaal sowel as klassieke fantasiefiksie beskryf. Die verhaal is om die beurt komies en ongekunsteld, epies en diabolies; en ontvou te midde van tallose toneelveranderinge en karakters in ’n denkbeeldige wêreld wat totaal oortuigend uitgebeeld word.

Die trilogie is vir aanhangers van fantasie geskik, vir oud en vir jonk. Hierdie Afrikaanse teks maak ’n relatief komplekse werk leesbaarder en meer verstaanbaar vir ’n jonger fantasiefiksiegehoor. Hier dink ’n mens byvoorbeeld aan jong tieners wat die rolprentweergawe ken, maar nog nie kans sien vir die Engelse boeke nie.

Oor die outeur en vertaler

Hoewel Tolkien se ikoniese Die Heerser van die Ringe geen bekendstelling nodig het nie, is die Afrikaanse vertaling daarvan ’n geweldig opwindende eerste. Tolkien self was baie krities oor die vertaling van sy werk. “That this is an ‘imaginary’ world does not give [the translator] any right to remodel it according to his fancy, even if he could in a few months create a new coherent structure which it took me years to work out,” skryf Tolkien in ’n brief aan sy uitgewer met betrekking tot die Nederlandse vertaling van die teks.

Kobus Geldenhuys is die vertaler van Die Twee Torings en Die Koning keer terug, en is bekend vir sy kinderboek­vertalings van outeurs soos JK Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat, en in 2018 vir MG Leonard se Kewerknaap. In 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R285,00*

*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.