Boek: Die Heerser van die Ringe: Die Twee Torings (Deel twee)

JRR Tolkien

Drie Ringe vir die elfkonings onder die hemelwerf,

sewe vir die dwerghere in klipsale gekroon,

nege vir mense, gedoem om te sterf,

een vir die Donker Heer op sy donker troon

in die land van Mordor waar die skaduwees draal.

Een Ring om oor almal te heers, een Ring om hulle te vind,

een Ring wat almal bring en in die duisternis saambind

in die land van Mordor waar die skaduwees draal.

Die Kameraadskap van die Ring is uiteengedryf. Party berei hulle sonder hoop voor vir oorlog teen die oeroue boosheid van Sauron. Ander kry te kampe met die verraderlikheid van die towenaar Saruman. Slegs Frodo en Sam bly oor om die vervloekte Ring van Mag na Mordor – die donker koninkryk waar Sauron heers – te neem en te vernietig. Hulle gids is Gollum, listig en hebsugtig, ’n slaaf van die ring wat almal die verderf in lei. Só vervolg hierdie manjifieke top-verkoper, ’n verhaal vol avontuur wat met Die Kameraadskap van die Ring begin het, en met ’n oorrompelende hoogtepunt in Die Koning keer terug ten einde loop.

Die trilogie is vir aanhangers van fantasie geskik, vir oud en jonk. Hierdie Afrikaanse teks maak’n relatief komplekse werk leesbaarder en meer verstaanbaar vir ’n jonger fantasiegehoor. Hier dink ’n mens byvoorbeeld aan jong tieners wat die rolprentweergawe ken, maar nog nie kans sien vir die boeke in Engels nie.

Oor die outeurs en vertalers

Hoewel JRR Tolkien se ikoniese Die Heerser van die Ringe geen bekendstelling nodig het nie, is die Afrikaanse vertaling daarvan ’n geweldig opwindende eerste. Tolkien self was baie krities oor die vertaling van sy werk (“That this is an ‘imaginary’ world does not give [the translator] any right to remodel it according to his fancy, even if he could in a few months create a new coherent structure which it took me years to work out,” skryf Tolkien in ’n brief aan sy uitgewer met betrekking tot die Nederlandse vertaling van die teks).

Janie Oosthuysen se vindingryke dog uiters sensitiewe benadering tot die wêreld van Middel-aarde skep ’n verbeelde werklikheid wat tegelykertyd bekend én splinternuut is.

Kobus Geldenhuys is die vertaler van Die Twee Torings en Die Koning keer terug, en is bekend vir sy kinderboek­vertalings van outeurs soos JK Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat, en in 2018 vir MG Leonard se Kewerknaap. In 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R285*

*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.