Boek: Die keer toe ek my naam vergeet het

Die keer toe ek my naam vergeet het voorblad (002)F.A. Venter

Die eerste uitgawe van Die keer toe ek my naam vergeet het verskyn in 1995, vyf jaar nadat die skrywer F.A. Venter ’n beroerte gekry het. In hierdie outobiografiese vertelling dokumenteer hy die pynlike en stadige proses van herstel: hy moet weer leer loop, leer praat, leer skryf. Dit is verder ’n verhaal oor die verhouding tussen Venter en sy geliefde vrou, Stella.

In Die Afrikaanse literatuur 1652–2004 beskryf J.C. Kannemeyer Die keer toe ek my naam vergeet het as een van Venter se “belangrikste bydraes tot die Afrikaanse prosa”: “Dié aangrypende verhaal van ouderdom en lyding, maar ook van ’n mooi huwelik en toegewyde liefde, is terselfdertyd ’n getuienis van die onblusbare gees van die skeppende mens wat, ten spyte van alle teenspoed, kan voortgaan met die werk waarvoor hy hier op aarde geplaas is.”

Op ’n eerlike en roerende wyse, en met ’n tikkie humor, raak Venter die universele, tydlose temas van siekte, oudword en die dood aan. Uiteindelik is dit ’n verhaal van aanvaarding: “Ek het baie verloor – die kosbaarste. Maar ek het ook geleer om te verduur. Te aanvaar. Tevrede te wees. Anders sou dit ondraaglik wees.”

Oor die outeur

François (Frans) Alwyn Venter is op 27 November 1916 in Hopetown gebore. Hy studeer letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Venter is veral bekend vir sy tetralogie oor die Groot Trek: Geknelde land (1960), Offerland (1963), Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968). In 1961 ontvang Venter die Hertzogprys vir Geknelde land (1960) en Swart pelgrim (1952, in 1958 hersien). Venter is in 1997 oorlede.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R200,00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mien ·

Hartroerende boek. Het die 1995 eksemplaar op my rak. So bly dat Protea boekhuis hierdie moeite werd boek herdruk het.

Annie ·

So die moeite werd om te lees en ook op jou boekrak te hê, hartroerend, verrykend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.