Boek: Die koning se wingerd

FA Venter

Agab staan verskeurd. Moet hy getrou bly aan die ou Israelitiese waardes, of kan hy sy heidense vrou, die skone en geslepe prinses Isebel, volg die afvallige tydsgees in? Teenoor die lis van Isebel staan die skraal, profetiese figuur van Elia. Elia wat die droogte in Israel voorspel, die profete van Baäl in ’n tweestryd op Karmelberg verneder, en uiteindelik die finale doemwoord oor Agab en sy huis uitspreek.

Die koning se wingerd vertel ook die verhaal van Nabot, godvresend, maar nie bereid om te erken dat God die God van alle mense is nie. En van die liefde van Nabot se seun Johanan vir Ada, die dogter van hul dienskneg. Dan is daar Johanan en God se plan om Israel te verlos van Agab se slegte regering.

FA Venter herskep die wêreld van Agab, Nabot en Johanan, die vroue in hul lewens, en die politieke strome wat hul omring het, met die gesag van iemand wat diep nagevors en gedink het. Hy laat dié aangrypende stuk Bybelse geskiedenis opnuut leef in fyn besonderhede, en die Bybelse waarhede wat só deurskemer is verstommend relevant vir vandag.

Die koning se wingerd is ʼn herdruk van die roman wat in 1984 die eerste keer verskyn het.

Oor die skrywer

FA Venter (1916-1997) is bekend vir sy geskiedkundige romans, kortverhale en jeugboeke. Hy het die Hertzogprys ontvang vir Swart pelgrim en Geknelde land, en die Andrew Murray-prys vir sy outobiografie Die keer toe ek my naam vergeet het.

Genre: Fiksie
Uitgewer: NB-Uitgewers
Prys: R250,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae