[Boek] Die leeutemmer se assistent

Leeutemmer-se-assistentSolet Scheeres en Marjorie van Heerden

Niks opwindends gebeur ooit op Kraaipan nie. Veral nie met Martjie wat in ’n eenvoudige huisie op die plaas Rietfontein net buite die dorp bly nie.

Maar toe Bertus Botha vir Martjie uitdaag om op die Mafikeng-trein te klim en te loer wat in een van die kratte is, is dit die begin van ’n reuse-avontuur. Martjie beland pens en pootjies saam met ’n sirkusleeu op een van die trokke.

Sy leer ken die eksentrieke sirkusbase, Mister en Madame Pagel, en die ander artieste van Pagel se beroemde sirkus. Mister Pagel is die sterkste man in die wêreld en druk tydens die vertonings sy kop in ’n leeu se bek. Madame Pagel ry bank toe met ’n leeu langs haar in die motor.

En Martjie-die-bywoner-se-dogter se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

Hierdie opwindende verhaal is losweg geskoei op die geskiedenis van die Pagel-sirkus, wat in die vorige eeu alombekend was in Suid-Afrika, en roep ’n vervloë era in die land se geskiedenis in herinnering. ’n Verhaal propvol aksie, avontuur … en die tydlose bekoring van die sirkuslewe.

Oor die skrywer

Solet Scheeres is die skrywer van die gewilde Glam-divas- en Klub 17-reeks vir tieners. Sy word gereken as ’n kenner van Suid-Afrikaanse kinderboeke, en haar stokperdjies sluit lees, tuinmaak en die versamel van verskillende uitgawes van Alice in Wonderland in. Voordat sy in 2004 saam met haar man en drie kinders na Nederland geëmigreer het, het Solet by die SAUK gewerk, waar sy onder meer ’n reeks programme met die oog op geletterdheid ontwikkel het en ’n boekinsetsel aangebied het. Sy was ook ’n deeltydse dosent aan die Universiteit van Johannesburg. Solet sê sy is versot op boeke vir kinders en tieners omdat hulle ’n opregtheid het wat volwasse lesers nie noodwendig meer geniet nie.

Oor die illustreerder

Marjorie van Heerden is een van die bekendste en mees bekroonde Suid-Afrikaanse kinderboekillustreerders en –skrywers. Sedert die publikasie van heer eerste prenteboek in 1983 is Marjorie se illustrasies en skryfwerk reeds in meer as 30 tale regoor die wêreld vertaal. Van die toekennings wat sy oor die jare ingepalm het, sluit in die W.B. Mkhize-toekenning (2011) vir die Zoeloe-weergawe van Lulama’s long way home; die M.E.R.-prys (2008) vir Nina and Little Duck; en die M.E.R.-prys (2011) vir beste geïllustreerde kinderboek vir Goblin Diaries: Apprenticed to the Red Witch.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R150-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.