Boek: Die Meesterstuk

Rivers_Francine_16.jpg

Foto: Francine Rivers

[Promosie]

Francine Rivers

Goeie nuus vir Suid-Afrikaners! Francine Rivers se splinternuwe treffer, Die Meesterstuk, word op 6 Februarie 2018 in Suid-Afrika saam met die res van die wêreld vrygestel.

Francine, veral bekend vir haar Christelike romans, het ’n suksesvolle skrywersloopbaan in die sekulêre mark gehad voordat sy ’n weergebore Christen geword het. Om haar toewyding aan Christus te verklaar het sy Verlos deur die liefde geskryf en vandaar verskeie romans met Christelike temas – almal topverkopers – gepubliseer. Sy word wêreldwyd deur die bedryf en lojale lesers geloof en haar Christelike romans is al bekroon met of genomineer vir tallose toekennings.

Hierdie splinternuwe liefdesverhaal, Die Meesterstuk, sal lesers soos in haar vorige boeke op ’n besondere reis neem en hoewel dit baie raakpunte het met ander romans uit Francine se pen, is dit ook uniek anders.

Meer oor Die Meesterstuk

Roman Velasco is ’n suksesvolle Los Angeles-kunstenaar wat oënskynlik alles het wat sy hart begeer – ’n groot herehuis, geld, vroue en roem. Slegs Grace Moore, sy teësinnige nuwe assistent, weet hoe min hy regtig het. Maar Grace weet nie hoe haar baas in die geheim met die spoke uit sy verlede stoei nie: deur geboue te teiken as die Bird, ’n berugte maar ongeïdentifiseerde graffiti-kunstenaar – ’n alter ego wat Roman se loopbaan kan verwoes en hom in die tronk kan laat beland. Soos Roman, worstel Grace ook met spoke en geheime van haar eie. Ná ’n rampspoedige huwelik haar lewe totaal van koers gegooi het, het sy gesweer dat liefde nooit weer haar drome sal kniehalter nie. Maar soos sy die enigmatiese man agter die reputasie leer ken, is dit asof hulle gebroke stukke stadig inmekaar pas … totdat iets onverwags gebeur wat die loop van hulle verhouding – en albei se lewe – onherroeplik verander.

Die-Meesterstuk_boek.jpgOp die vraag wat haar motivering was vir hierdie besondere verhaal antwoord sy: “Soms is die sterkste en mees geharde persoon wat jy ken die een wat die stukkendste is. Ons sien gewoonlik net iemand se fisieke front raak, maar God ken die persoon se hart. Ons sien ook nie altyd God se werk in ons en ander nie, maar glo my, Hy is hard aan die werk. Dit is belangrik om nooit so ’n persoon te versaak nie. Hou net aan bid. Dit is ’n groot seën om te sien en ervaar hoe ’n gebroke mens deur God omskep word in een van sy meesterstukke.”

Met haar vorige romans was daar altyd een hoofkarakter met ’n baie sterk geloof in God, maar in hierdie boek is al twee die hoofkarakters gebroke. Grace is die Christen, maar het self al baie kere in haar geloof getwyfel en dan baie swaarkry in die proses beleef. Haar geloof is die hele tyd ’n moeilike opdraande pad en Roman maak dit ook nie vir haar makliker nie.

“Albei hierdie karakters het trauma ervaar as kind en dit het hulle gevorm in wie en wat hulle vandag is. Wat hierdie boek dus soveel anders maak as my voriges is dat die sterk Christelike invloed eerder by sekondêre karakters lê,” sê Rivers.

Die meeste van haar navorsing vir hierdie boek was oor die sielkundige patrone van mense wat mishandel is. “Dit was nie maklike navorsing om te doen nie en soms selfs hartverskeurend,” vertel Rivers. “Dit was baie belangrik dat ek hierdie mense nie verkeerd voorstel of verteenwoordig in die boek nie. Ek het heelwat gesprekke gevoer met ’n vriendin wat ’n geregistreerde berader is en het ook my karakters as ’n gevallestudie aan ’n groep beraders voorgestel. Almal het bevestig dat hulle heelparty mense moes help wat baie soos Roman en Grace is.”

En wat hoop Francine Rivers sal lesers uit die boek saam met hulle neem? Sy antwoord: “Ek wil hê lesers moet weet dit maak nie saak wie jy is, waar jy vandaan kom en wat jy in die verlede gedoen het nie. Jesus sal jou aanvaar.”

Die Meesterstuk sal dus elke leser herinner dat genade selfs die mees gebroke mens in ’n onvolmaakte dog ongelooflike meesterstuk kan verander.

 

Die Meesterstuk (uitgegee deur Christelike Uitgewersmaatskappy) en The Masterpiece (Christian Art Distributors) sal op 6 Februarie 2018 in Suid-Afrika saam met die res van die wêreld beskikbaar gestel word. Dit is dus in sowel Afrikaans as Engels op die rak by alle takke van CUM Boeke en ander toonaangewende boekwinkels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ronalda Botha ·

Baie opgewonde oor die nuwe boek. Ek hou styf duim vas hy is myne!

Maria ·

Ek nie lief vir lees nie maar jou boeke is ongelooflik goed wil net dankie se Ek leer baie daaruit :)

Liezl ·

Fantasties, haar boeke het my destyds bewus gemaak van dinge in my eie lewe wat ek nie raakgesien het nie. Bevryding gebring en beslis my oë oopgemaak. God werk op wonderlike maniere.

Liezl ·

Baie dankie Maroela Media vir die meester stukkie wat julle vir my stuur. Ek is so opgewonde !

Liezl... ·

Regtig, ek het so gehoop hy’s myne :( Ek is die 1ste Liezl, toe stuur ek stukkie in vir die kompetisie Baie geluk…’tweede’ Liezl

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.