Boek: Die meisie op die dak

Meisie-op-die-dakCecilia Steyn

Estelle is skaam vir hulle nuwe huis met die giggelgeel kombuis en vuil matte. Sy wens dit was nie nodig om na hierdie goor buurt te trek nie. Sy wens die ding met haar pa het nooit gebeur nie. Sy wens dit was nie nodig om terug te gaan skool toe waar almal haar vreemd aanstaar en agter bakhande fluister nie.

Maar wense is nie veel werd nie – tensy jy in sprokies, gelukkige eindes en die towerkrag van verskietende sterre glo. Dan ontmoet Estelle egter die buurseun. Aiden met sy grys oë, kuiltjieglimlag en melkverslaafde kat. Aiden wat graag tatoeëermerke teken en saans op die motorhuis se dak sit en kondensmelk eet. Aiden wat haar dalk weer in wonderwerke kan laat glo.

’n Lekkerlees-jeugroman vol humor en patos, oor die seerkry van tienerwees, maar ook die betowering van ’n eerste liefde wat begin blom.

Oor die outeur

Cecilia Steyn is op Welkom in die Vrystaat gebore, die jongste van drie kinders. Sy was nog altyd lief vir skilder en skets en op hoërskool was kuns haar gunsteling-vak. Ná skool het sy in die apteekbedryf gaan werk, en sy en haar man, Johan, het drie seuns. Onder leiding van haar broer en mentor, die skrywer Fanie Viljoen, probeer sy op die ouderdom van veertig vir die eerste keer haar hand aan die skryfkuns. Haar eerste kortverhaal, “Evan se pizza”, het in 2015 in Vrouekeur verskyn, en kort daarna is Die meisie op die dak deur LAPA Uitgewers vir publikasie aanvaar. Wanneer sy deesdae nie lees nie, skryf sy. Sy geniet dit ook om haar hande vuil te maak en saam met haar man aan hul huis te help restoureer of in die tuin te werk.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R119.99*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.