[Boek] Die Muishuis-reeks

Die-Muishuis-Sam-en-JuliaKarina Schaapman

Die Muishuis, Sam & Julia

Sam en Julia woon in die Muishuis. Julia bly saam met haar ma in ’n baie klein kamertjie op die boonste verdieping. Sy het nie ’n pa, boeties of sussies nie, en ook geen oupa of ouma nie. Julia is baie nuuskierig en eiewys. Sy hou van opwinding en sodra sy verveeld is, gaan sy buitentoe. Sy is op soek na avontuur saam met haar maatjie, Sam.

Sam woon in die middel voor in die Muishuis. Hy bly saam met sy pa, ma, boeties en sussies. Hy het twee oupas en oumas, ’n paar tannies en een oom. Sam is baie skaam en soet, maar as hy saam met Julia is, doen hy dinge wat hy andersins nooit sou aandurf nie. Die twee is onafskeidbaar.

Die-Muishuis-By-die-kermis-2Die Muishuis, By die kermis

Daar’s ’n kermis in die stad! Sam en Julia gaan kyk hoe die vermaaklikhede gebou word. Daar kom ’n agtbaan wat so hoog is dat dit tot by die derde verdieping van die Muishuis reik. Hulle kan nie wag om op daardie rit te klim nie! Maar daar is een probleem: Alle plesierritte kos geld en hulle het nie geld nie. Hulle bedink saam met die rommelboer ’n plan om ekstra sakgeld te verdien.

En dan kom die groot dag. Die dag waarop Sam en Julia kermis toe mag gaan! En dit is ’n geweldige kermis, want alles waarvan ’n muisekind maar kan droom, is daar. ’n Balgooikraampie, stampkarretjies, ’n spookhuis en die einste agtbaan…

Die-Muishuis-By-die-teater-3Die Muishuis, By die teater

Toe Sam en Julia op ’n dag met albasters speel, tel hulle ’n besonderse klip op – ’n gelukbringerklip. Hulle bêre dit natuurlik in hul skatkissie in hul geheime hut onder die trap. Min wetend dat die klip later handig te pas sal kom …

Soos in die topverkoper Die Muishuis, Sam & Julia, sien die leser gaandeweg hoe die vriendskap tussen Sam en Julia ontwikkel. Ons ontmoet ook nuwe karakters soos wat die twee muise nuwe kamers en ruimtes in die Muishuis verken.

Oor die outeur en projek

Karina Schaapman (op 6 Junie 1960 gebore in Leiden) is ’n Nederlandse skrywer en politikus. Sy debuteer in 2000 met Schoolstrijd, gevolg deur Zonder moeder in 2004. In 2008 besluit sy om ’n kinderboek te skryf. Sy was egter nog nie seker hoe sy dit sou illustreer nie. Ter inspirasie lees sy toe weer haar gunstelingkinderboek: Het muizenboek van Clinge Doorenbos. Dit was die enigste kinderboek wat Karina as kind in die huis geken het. Karina het die tekeninge van Nans van Leeuwen bekyk en gedink dat sy miskien ’n regte muishuis kon bou. Sy begin toe met ’n lapwerk-kwilt. Daarna volg vinnig ’n bedjie, en toe sommer ’n hele kamer. Toevallig het daar ’n leë kartondoos in haar huis gestaan. Sy verdeel toe die doos in verskillende woonvertrekke en so onstaan langsamerhand die eerste kamers van die Muishuis.

Toe Karina sien dat dit werk om haar idees daadwerklik om te skakel in ’n regte muishuis, begin sy meer lemoendose versamel. Sy het hulle deurgesny, met houtlym aanmekaar vasgeplak, opmekaargestapel en aangebou. Sy moes die huis met papier mâché versterk. Terwyl sy besig was om die kamers te bou en in te rig, moes Karina begin dink oor die stories wat sy vir kinders wil skryf. Elke kamer moes sy eie verhaal vertel.

Die Muishuis bevat baie outobiografiese elemente. Uit Karina se lewe en ook dié van haar man. So het haar eggenoot byvoorbeeld gereeld by sy oom die rommelboer gaan kuier. In die boeke behandel Karina onderwerpe wat belangrik is vir die belewingswêrelde van kinders soos om hutte te bou, geheime te deel, liefde te kry en versorg te word. Maar ook: om die wêreld van die bure te leer ken. Te ontdek dat andermansgebruike en -gewoontes nie bedreigend hoef te wees nie, dat daar ruimte is vir verskille en dat die verskille die wêreld verryk.

Die Muishuis word tentoongestel in die Openbare Biblioteek in Amsterdam. Die boekereeks is intussen in vyf-en-twintig tale verkrygbaar. Karina het saam met haar kinders ’n familiebesigheid begin en saam werk hulle elke dag aan nuwe stories en dekor vir die boeke.

Oor die vertaler

Shané Kleyn het ’n MA in Afrikaanse letterkunde (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en is sedert April 2010 as redakteur by Protea Boekhuis aangestel. Sy het meer as 60 kinderboeke uit Engels en Nederlands in Afrikaans vertaal.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R150.00 elk*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.