Die meeste mense beland die een of ander tyd in ʼn net van ellende. Al jou planne het in duie gestort en jou lewe val uitmekaar. Jy het jou lewensmaat verloor, of dalk jou werk, of jou gesondheid het ingegee. Jy het die moed verloor om aan te hou lewe.
In die Christelike geloof is daar die troosryke boodskap van ʼn net wat inderdaad gebreek het: Met die sterwe van Jesus is die toegang tot God vrygemaak vir almal. Die prys vir die skuld van die mensdom is betaal, sodat alle mense God te alle tye met vrymoedigheid kan nader.
Die blydskap oor die gebreekte vangnet kan egter slegs ervaar word deur diegene wat weet van die net wat hulle gevange hou en waaruit hulle nie self kan ontsnap nie. Slegs die nederige persoon kan opreg bid, en nederigheid is ook die gevolg van ʼn gesonde gebedslewe.
In Die net is gebreek, geskryf deur Chris van der Merwe, word ons herinner dat ʼn groot krisis tot innerlike groei en verryking lei. Dan kan daar betekenis wees in ʼn tyd van teenspoed, en ʼn nuwe pad kan uit die doodloopstraat lei.
Prys: R250,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke