Boek: Die Onbekende Van Gogh

van-gogh-AFR1.jpgChris Schoeman

Daar is al baie geskryf oor Vincent van Gogh en sy onstuimige verhouding met sy broer Theo. Maar min mense weet dat daar ʼn derde Van Gogh-broer was: Cornelis, wat in Nederland grootgeword het, maar in Suid-Afrika gewerk, getrou en gesterf het.

Cor, die seun van ʼn Protestante predikante, het sy jeugjare in verskeie klein Nederlandse dorpies deurgebring. Daar het hy en sy kunstenaarbroer gedurende idilliese vakansies saam in die platteland gaan stap voordat die Van Gogh-gesin deur teenspoed en tragedies oorval is. Die 22-jarige Cor het in 1889 na Suid-Afrika gekom en as ingenieur by die goudmyne en later die spoorweë gewerk. Tydens die Anglo-Boereoorlog het hy hom by die Boere geskaar, eers as spoorwegingenieur en later as lid van ʼn kommando in die Vrystaat, waar hy in 1900 op dieselfde tragiese wyse as sy beroemde broer gesterf het.

Die Onbekende Van Gogh laat herleef Suid-Afrika in die stormagtige laaste dekade van die negentiende eeu; vertel die persoonlike verhaal van ʼn jong uitlander soos onthul in briewe en ander argiefstukke; en werp lig op sy verhouding met sy beroemde broer Vincent. Hierdie boek bied nuwe insigte wat op oorspronklike navorsing gegrond is en lig die sluier oor ʼn figuur wat deur die geskiedenis vergeet is.

Oor die outeur

Chris Schoeman is in Somerset-Oos gebore en het meestersgrade in die geskiedenis aan die Universiteit van Port Elizabeth en Colorado State University verwerf. Hy is ʼn historikus en joernalis, en is die skrywer en medeskrywer van verskeie boeke. Sy jongste boeke sluit in Boerseun, Broers in die stryd, Engele in die vreemde, Churchill’s South Africa, The Historical Karoo en The Somme Chronicles.

Uitgewer: Zebra Press
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Ek het die voorreg om ‘n familielid van Cor Van Gogh te kon ontmoet. Joan van Gogh. Haar vader was ‘n oom of neef of kleinneef of agterkleinneef van Cor. Sy is ‘n kunstenaar in eie reg wat pragtige sketse vir bv Veldblomme van SA gedoen het. Ek is vriende met haar seun Luke Boshier hier van Gansbaai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.