Boek: Die ossewa en sy spore

Die ossewa en sy spore deur Erik Holm word uitgegee deur Imprimatur.

Mense wat belangstel in die geskiedenis, rytuie, munte, seëls, die Afrikaanse taal en letterkunde, houtwerk en houtsoorte, osse en talle ander onderwerpe, sal dié boek geniet. Die ossewa en sy spore is toeganklik geskryf maar die deeglike navorsing waarop dit berus, maak dit ’n moet vir historici.

Hedendaagse Suid-Afrikaners assosieer die ossewa onvermydelik met die Groot Trek en groot geskiedkundige gebeure soos die Slag van Vegkop en Bloedrivier en hierdie geskiedenis kom dan ook aan die bod in Die ossewa en sy spore.

Sonder die ossewa sou ’n groot deel van ons geskiedenis inderdaad ook nie denkbaar wees nie. Maar Erik Holm toon in hierdie boek aan dat die ossewa ’n onmisbare en onmiskenbare betekenis vir die ontwikkeling van die ganse Suider-Afrika gehad het: in die verkenning van die binneland, die migrasie van verskillende groepe setlaars gedurende die 18de tot diep in die 20ste eeu, die vervoer van swaar toerusting deur transportryers vanaf kushawens na die nuwe mynbougebiede in die Noord-Kaap en die ou Transvaal, as mobiele tenk en blokhuis gedurende die Anglo-Boereoorlog en, voor die algemene gebruik van motorvoertuie, as algemene vervoermiddel van mense en hulle bagasie.

Hierdie tapisserie in die Voortrekkermonument beeld ’n dramatiese toneel tydens die aftog oor die Drakensberge uit (W.H. Coetzer) (Foto verskaf)

Daarby het die ossewa ’n groot invloed op die Afrikaanse taal en letterkunde gehad en duik dit selfs vandag nog op as onderwerp van populêre liedjies. Talle kunstenaars het die ossewa in hul werk uitgebeeld en as simbool het ossewaens op munte, seëls en die wapens van talle instansies en lande verskyn. Die boek dek al hierdie onderwerpe en gee selfs instruksies oor hoe om ’n ordentlike kleios te maak!

Ossewaens is tot diep in die twintigste eeu nog as nagmaalwaens gebruik. Hier is ou vriendskappe hernu en het nuwe liefdes geblom (Foto verskaf)

Tegniese aspekte van die bou en bedryf van die ossewa word in fyn besonderhede beskryf. Die tekening hier onder toon ’n ossewa se agteras en die agtertang waarin die langwa vasgeknyp word. Die langwa is ’n lang balk wat onderdeur die wa loop en die krag van ’n lang span osse na die agterstel kon oordra.

Die ossewa en sy spore is ryklik geïllustreer met tekeninge, kunswerke en foto’s van osse en ossewaens. Dié boek bied ’n verrassende nuwe blik op die geskiedenis van Suid-Afrika vanuit ’n ongewone hoek aan.

Oor die outeur:

Erik Holm is ’n man van vele ambagte. Hy is een van Suid-Afrika se baanbreker-entomoloë met ’n groot aantal wetenskaplike publikasies op sy kerfstok en het wye bekendheid verwerf vir sy deelname aan radioprogramme soos Hoe verklaar jy dit. Hy skryf ’n gereelde rubriek vir Beeld en tree op as raadgewer oor ekologies-haalbare boerdery- en ander praktyke. Daarby restoureer hy ou ossewaens en het die Ossewa-lodge by Hartbeespoortdam begin. In 2019 is die Senior Kaptein Scott-medalje deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken.

Uitgewer: Imprimatur
Prys: R690-00*
Koop die boek: www.imprimatur.co.za 
*Die prys is onderhewig aan verandering

Al ooit gewonder hoe trek ’n mens ’n waband oor ’n wiel? Kyk bietjie hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.