Boek: Die respektabele Meneer Hartslief

hartslief

Chris Karsten

Lees die bekende skrywer, Ilse Salzwedel, se resensie van die boek.

Wanneer ’n nagklubbaas die katelknaap van sy minnares laat vermoor deur ’n eksentrieke huurmoordenaar, loop hy hom vas in die vermoorde se familie, die Hartslief-clan van Brixton. Elie Hartslief is die brein; Antie Engel met haar sopkombuis en sesde sintuig die hart; neef Boela met die slaghuis, die spiere; en die verfynde Moks met sy helderkleurige mohican en daggakoekies die bek.

Elie is deesdae amper respektabel en mnr. Morkel van Morkel Wealth se regterhand, maar sy broer se moord noodsaak dat die Hartsliefs laer trek. Maar hulle teenstanders is die berugte Bogdan Petrescu en sy huurmoordenaar Lood – ’n man met ’n voorliefde vir saksofoonmusiek en ’n aanleg om mense op kreatiewe maniere dood te maak. Dink Coen-broers en Westerns in Brixton en Sandton. Karsten-noir uit die boonste rakke!

Oor die outeur:
Chris Karsten is op 9 November 1947 op Morgenzon in Mpumalanga gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Hoogenhout op Bethal en behaal ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria (1970). Hy werk daarna as koerantjoernalis by Volksblad, Beeld en Rapport. Karsten is die skrywer van twee kinderboeke, Floris sapiens (1985) en Die jokkie wat met perde kon praat (1997). Hy ontvang die Sanlamprys vir jeuglektuur (silwer) vir Floris sapiens. Sy eerste roman, Frats, het in 2007 verskyn, en is ’n jaar later met die ATKV-prosaprys bekroon. As koerantman was hy in verskillende joernalistieke hoedanighede gemoeid by baie van die stories wat in sy Ware Misdaad-reeks opgeneem is. Van die titels wat sedert 2007 in dié reeks verskyn het, sluit in Riller in die raaisel, Opspraak deur moord, Dodelike vroue, Verlore onskuld en Boos en bisar. Sy boek oor aktrise Charlize Theron verskyn in Mei 2009 en is in Afrikaans (Charlize: Ek leef my droom) en Engels (Charlize: Life’s One Helluva Ride) beskikbaar. Karsten woon in Kanada.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R220-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.